Titel: Kwaheri, my geliefde
Skrywer: Lucia Prinsloo
ISBN: 978-0-620-48256-1
Formaat: Sagteband, 224p
Prys: R129-95
Vanaf die voetheuwels van die manjifieke berg Meru in Tanzanië tot die walle van die Groot Letaba in die Laeveld van Suid-Afrika, volg die memoiries die spoor van een familie. Mense gedryf deur hartstog, passie en geloof: Christiaan en Lucia van den Berg en hulle kinders, moet telkens groet. Kwaheri. Ek groet jou. Mooi loop. Mag dit met jou goed gaan. Maar vertel ook van mense wat terugkom huis toe.
“Lucia, kyk,” hoor sy Sussie se fluisterstem skielik hier agter haar. En dan trek ‘n yskoue rilling teen haar ruggraat af. Want reg voor die kar verskyn eers een, en dan nog een. Luiperds. Diere van die nag.
Hulle beweeg tot reg voor die motor, en dan gaan staan hulle. Gefassineerd kyk hulle reguit vir die voertuig. Hulle staan presies tussen die kar en die water. Dis asof die twee vroue en die twee luiperds mekaar reg in die oë kyk. Die ligte van die kar verblind die diere en hulle staan bewegingloos.
Groot, geel oë in massiewe koppe. Lang snorbaarde. Die ore gespits. Die gietende reën pla hulle nie in die minste nie. Hulle geheimsinnige nagtelike lewe gaan voort. Hulle sal beweging raaksien. Hulle sal hulle prooi kry, wat ookal die weer.
Hierdie boek hoort op die rak tussen Olive Schreiner en die treffer Out of Africa.