Kunswerksessie bevorder vaardighede

0
767
Willie Bester, links, leer twee van die beeldhou-kunstenaars wat deel was van die werksessie. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

‘n Werksessie is op 8 en 9 November by die beeldhouateljee van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) aangebied onder die vaandel van Phatshoane Henney New Breed Art Competition.
Die Oliewenhuis-kunsmuseum het saam met Phatshoane Henney-prokureurs besluit om ‘n bekende kunstenaar te nooi om te help met die beoordeling en het op Willie Bester besluit.
“Ons het op Willie Bester besluit aangesien hy al vir jare een van Suid-Afrika se beste beeldhouers is. Hy skilder en teken ook en dit was logies om hom te kies. Hy verstaan verskillende kunsmediums,” sê Yolanda Kock, opvoedkundige beampte by Oliewenhuis en organiseerder van die werksessie. Daar is ook besluit om ‘n opvoedkundige sy aan die kompetisie te koppel.
SUT was bereid om sy beeldhou-kunsfasiliteite beskikbaar te stel, wat die kompetisie moontlik gemaak het.
Mense kon aansoek doen om deel te wees van die werksessie. Drie studente van die Universiteit van die Vrystaat is genooi, drie van Motheo FET Kollege en drie van SUT. Vier plekkie was beskikbaar vir die publiek, terwyl daar ook voorsiening gemaak is vir mense uit minderbevoorregte omstandighede om die sessie by te woon.
“Die kunstenaars het vir seker verskeie vaardighede geleer. ‘n Kunstenaar wat gewoond was aan houtwerk, het skielik leer sweis. Dit is beslis ‘n pluspunt uit die werksessie dat soveel vaardighede moontlik ontwikkel kon word,” meen Kock.
“Dit was belangrik om almal te betrek maar ook geleenthede te bevorder.”

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za