E Copy

Date:

Kunstenaar span Moeder Aarde opnuut in Bloem in

Suid-Afrika se grootste, eietydse landkunstenaar, Strijdom van der Merwe, het verlede week ‘n tweede keer sy merk permanent in Bloemfontein gelaat.
Van der Merwe se werk bestaan hoofsaaklik uit omvattende fotodokumentasie van werke wat geskep word uit materiaal wat hy op ‘n spesifieke perseel vind en dan gebruik om sy kunswerk te skep. Die materiaal sluit sand, water, hout en klip in. Deur die vervorming van hierdie elemente in geometriese vorms, jukstaponeer hy die kontras tussen kunswerk en omgewing, groei en die verweer daarvan. In meeste gevalle is Van der Merwe se werk dus verganklik.
“Vir my is dit belangrik dat ek iets kan skep met die materiaal wat ek op die spesifieke plek kry. Ek voel dit is vir my ‘n eerliker tipe werk as ek dit so kan skep. Dit is meer getrou aan die plek en aan die mense,” sê hy terwyl ons oor ‘n koppie koffie gesels.
Sy nuutse skepping getiteld Sculpting a line to hold human time, is verlede Donderdag voltooi op die landgoed van die Liedjiesbos Gastehuis in Frans Kleynhans-weg, Groenvlei. Verbygangers sal saans die beligte beeld van die pad af kan sien.
“Ek het ‘n naweek hier spandeer en op die landgoed rondgeloop om te kyk watse elemente tot my spreek. Ek het op hierdie besonderse klippe afgekom. Toe ek dit van naderby bekyk, sien ek dit het perfek afgebreek met lynreguit kante. Die kante is so reguit dat dit perfek op mekaar balanseer. Lyne speel ‘n belangrike rol in my werk. Ek het die gleuwe in die rots gekerf, waarin ek my eie metaallyne gelê het. Die lyne lyn nie op nie, maar indien ‘n mens dit na sy oorspronklike geheel sou terugskuif, sal al die gekerfde lyne by mekaar aansluit en een lyn vorm.”
Aan die een kant is die titel van die werk in ‘n staaf gegrafeer en aan die ander kant is Liedjiesbos se lengte- en breedtekoördinate gegrafeer.
Van der Merwe se ander permanente werk in Bloemfontein is Tree of knowledge wat vir die Universiteit van die Vrystaat se buitelug-kunsversameling geskep is. Tree of knowledge toon ook die kunstenaars se gebruik van lyne en dit kan gelees word as 'n abstrakte versameling van lyne.
Die wortelagtige vorms van die boom wat uitsteek bo die grond dien as bankies vir studente om asem te skep en met hul eweknieë om te gaan. Dié werk dien as 'n byeenkomplek vir studente en vier die idee wat in sommige Afrika-tradisies bestaan van onderrig wat onder 'n boom geskied.
Tydens Van der Merwe se Bloemfonteinse besoek het hy ook tyd gemaak om Oranje Meisieskool se gr.10- en 11-kunsstudente toe te spreek en meer te vertel oor sy werk. Sy werk maak deel uit van hul kunsillabus. – Maricelle Botha

maricelle@centralmediagroup.co.za

Share post:

Popular

More like this
Related

Ondersteun Corban se stamselbehandeling

Corban Pretorius is op die ouderdom van 18 maande...

‘Robin in the Hood’ brings laughs and magic to the Rabbit Studio stage this June

Xander Art Productions, in association with The Rabbit Theatre...

Local short film ‘Vultures’ shines at Cannes

A local short film, “Vultures”, has soared to international...

PROMOSIE: ’n Kwarteeu van kuns en kultuur: Vrystaat Kunstefees vier 25 jaar

In die hart van die Vrystaat vier die Vrystaat...