Titel: Kuier in ’n Plaaskombuis
ISBN: 978-0-9869898-2-7
Skrywer: Nico Moolman
Verkoopsprys: R239.95
Formaat: Luukse hardeband, 192pp teks en foto’s
’n Jeugherinnering of nostalgie aan ’n vergange era moet ’n insiggewende uitbeelding, waarmee die leser kan identifiseer wees. Dit moet ’n behoorlike vaslegging van ’n leefwyse wat eie aan ’n sekere tydperk, wat intussen verdwyn het, wees. Dit moet ’n goeie skildering van histories belangrike jare, gebeurtenisse en figure wees. Kuier in ’n Plaaskombuis is dit. Dit is nog meer. Dit vang die eenvoud en elegansie, die warmte en samehorigheid wat geheers het vas. Dit bevat ou handgeskrewe resepte uit die plaas-kombuis. Dit is die boekstawing van beproefde mondwater resepte wat deel van die Afrikaanse kultuur en leefwêreld uitgemaak het en nog steeds die smaak prikkel. Dit is ’n kunswerk met meer as 300 foto’s wat beelde oproep uit die vorige eeu.
Die visuele huldebetuiging aan die vrou en haar wêreld, word versterk deur die uit-die-hart stories vanuit die hart van die huis (en geskryf soos dit gepraat is).
Die skrywer, Nico Moolman, is ‘n Hoëvelder in murg en been. As vergaarder van alles wat volks eie aan die Afrikaner is, pen hy met waardering en ook soms tong in die kies die stories van sy mense neer.
Uitstaande afdelings waarmee alle plaaskinders van 50 + sal kan identifiseer is: Gepekel, gekaiing en bewors, kors en kaneel, basaartreffers en lekkergoed vir mooigoed. Aan “mooigoed” is daar meer as genoeg en baie lesers sal oumas en tannies herken as die mooi vroue in die boek . Die boek kan in drie dele verdeel word: ‘n Leefstylskets ter aanvang, die oorspronklike resepte en in die afdeling getitel: “Van konsentrasie tot konsternasie” volg oorgelewerde plaasstories.
Hierdie boek is ‘n kultuurerfstuk en ‘n noodsaaklike bron in die skepping van begrip en trots op die eie en ander se kultuur ter wille van die skepping van nasietrots. Vir Afrikaanssprekende sowel as Engelssprekende leerlinge en onderwysers behoort hierdie boek die eerste stap na akkulturalisasie te wees.