Kruger wen sy wêreldtitel terug

0
730
RUFUS BOTHA

Die blinde rolbalspeler van die Rosestad, Michiel Kruger, is Vrydag in Hull City in Nieu-Seeland gekroon as die wêreldkampioen in die enkelspel vir spelers met siggestremdhede.

Kruger, wat in die kategorie (B1) vir volkome blinde spelers deelneem, het oudergewoonte sy gids, Willie Schoeman, langs hom gehad.

Hierdie onafskeidbare kombinasie (Kruger en Schoeman), het genoemde titel in 2011 op tuisbodem in Johannesburg vir die Reënboognasie ingeoes, maar moes in 2013 (Engeland) by die wêreldkampioenskap met die silwermedalje tevrede wees.

Daar was egter geen teken van boedel oorgee nie. Kruger het verlede week in Hull City besluit hy gaan dié titel terugwen en dit met oorgawe gedoen.

Daar word by die kampioenskap nié uitdunrondes en uiteindelik ‘n eindronde gespeel nie. Elke deelnemer in ‘n gestremdheidskategorie speel een wedstryd teen ‘n ander en die wenner word dan op ‘n netto puntebasis bepaal.

Kruger het in sy eerste wedstryd met die gasheerland (Nieu-Seeland) se David Monk koppe gestamp en hom gestoomroller met 21 – 5.

Tydens dag twee (Woensdag) se eerste wedstryd was die kranige speler van Hong Kong, Sui Kwong Lau, aan die beurt. Dit was egter nie weer kinderspeletjies vir Kruger nie en hy moes hard konsentreer om met 16 – 14 te wen. Later die dag het dit makliker gegaan en Kruger het ‘n gerieflike oorwinning (21 – 14) oor die Engelsman, Amit Amin, behaal.

In Donderdag se eerste wedstryd het Kruger vir Fred Randolph (Kanada) met 19 – 13 verslaan, maar hy moes al sy ondervinding gebruik om vir Ithzah Baranes (Israel) met slegs een punt (14 – 13) te klop.

Op die laaste dag van die enkelspelwedstryde vir mans het Kruger die naaste aan ‘n verloorwedstryd gekom toe hy gelykop (14 elk) getrek het Nieu-Seeland se Glen Hanneman, maar laasgenoemde het nie genoeg gedoen in sy vorige wedstryde om ‘n bedreiging vir die Bloemfonteiner te wees nie.

Kruger het ‘n skitterende algehele oorwinning behaal toe hy sy laaste wedstryd, ook teen ‘n Nieu-Seelander, gewen het. Hy het die ‘black cap’, Parveen Shankkar, verspot maklik met 21 – 3 gewen.

Kruger het sy goud gewen danksy ‘n algehele telling van 126 – 67 wat hom ‘n netto punteoorwinning van 50 besorg het. Monk het uiteindelik silwer opgeraap met 44 netto punte en Lau was derde met 36 netto punte .