Bloemfontein, omgord die lendene, want die tweedejaar-dramastudente van die Vrystaatse Universiteit (UV) gaan teatergangers op ‘n boeiende tog deur die Kaapse Vlakte neem in hul nuwe verhoogstuk, Kristalvlakte.
Dié drama, wat van 28 tot 30 Augustus 2019 om 19:30 in die Scaena-teater op die UV se hoofkampus opgevoer word, vertel die verhaal van ‘n gemeenskap, en waarsku teen fascisme en geweld.
Luidens ‘n verklaring van die UV se dramadepartement vertel hierdie epiese teaterstuk uit die pen van Amy Jephta van skuiwende grense en lojaliteite en mense wat heen en weer gewaai word in die stryd na mag en oorlewing.
“Uit die flenters van oorloë, wat soos winde trek oor die Kaapse vlakte, smous Priscilla vir haar en haar familie ‘n lewe aanmekaar. Die gemeenskap bloei op die mespunt van politieke onsekerhede, bendebase en godsdiensleiers.
“Soms is daar eilandjies van vrede, soos in enige oorlog, maar ongelukkig loop oorlog altyd oor daardie vrede en liefde. Solank die bloed in Priscilla se are pomp, sal sy die smokkelhandel oorleef sodat vrede en liefde haar kinders kan warm hou in die nag,” lui die verklaring.
Hierdie verwerking van Bertolt Brecht se Mutter Courage und ihre Kinder, bied geen eenvoudige antwoorde nie, maar vlek eerder ‘n godskreiende sosiale werklikheid tot op die been oop. In hierdie oorlog vreet die woedende stryd elkeen stadig maar seker, een vir een, op.
Kristalvlakte, wat deur Anthea van Jaarsveld geregisseer word, word in Afrikaans en Engels opgevoer en het ‘n ouderdomsbeperking van 10+ (PG).
Kaartjies is beskikbaar by Computicket teen R40 vir volwassenes, R30 vir studente, R25 vir pensioentrekkers, R25 vir skoliere (10 tot 18 jaar), en R25 vir groepbesprekings van 10 of meer.
Vir meer inligting gaan na https://www.facebook.com/ufsdrama/.
Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za