KovsieSport mik elke keer na puik vertonings

0
902

RUFUS BOTHA

Die direkteur van KovsieSport, DB Prinsloo, het nie doekies omgedraai toe Bloemfontein Courant hom gepols het oor sy doelwitte vir KovsieSport vir 2016 nie. 

“Ons het ‘n baie goeie sportjaar in 2015 beleef, maar ons móét poog om meer konstant goeie prestasies te herhaal,” het hy gesê.

Prinsloo sê dit was nie aangenaam om die eindstryd van die Varsitybeker-netbal- en -hokkietoernooie, waar die Kovsies gunstelinge was, te verloor nie. 

“Maar, dié soort van nederlae was ‘n baie goeie leerskool vir ons spelers om druk te verwerk en by vinnig veranderde omstandighede aan te pas. Daar was gevalle waar ons as gunstelinge begin het en deur die teenstanders gedwing is om by hulle spelpatrone aan te pas, instede van andersom.” 

‘n Positiewe stap wat afrigting en administrasie van KovsieSport betref, is dat die hele departement na die wêreldbekende Callie Human-saal op die kampus verhuis. “Ons is reeds besig om te trek en behoort dié week klaar te wees. Al die sportadministrateurs se kantore sal voortaan by die Callie Human-saal wees, asook ‘n rehabilitasie-gimnasium. Dit gaan alles soveel meer toeganklik maak vir studente,” het Prinsloo bygevoeg.

Courant het met hom gesels oor ‘n paar spesifieke sportsoorte. “Ons het ‘n goeie jaar op atletiekgebied gehad en natuurlik het Wayde van Niekerk se oorwinning by die wêreldkampioenskap (400m) ons op die spreekwoordelike map gesit, maar ek sal graag wil sien dat ons vanjaar in spankompetisies verbeter.

“Dit gaan moeilik wees, want ons was derde by die Varsitybeker-atletiek en dit het reeds as ‘n verrassing gekom. Die boerpot sal wees indien ons dié derde plek kan verdedig, veral teen die Universiteit van Johannesburg (UJ), wat vanjaar vierde was en as een van die gunstelinge begin het.”

Vanjaar is ook Olimpiese Spele-jaar en die jagter (Wayde van Niekerk) het nou die prooi geword. Indien dié yster van Kovsieland die Olimpiese titel vanjaar kan beklink, sal Kovsies nog méér wêreldroem (saam met Wayde) smaak. 
Wat netbal betref, het Prinsloo gesê: “Die hoofdoelwit is om albei titels wat ons in 2015 verloor het, weer terug te wen.” Hy verwys hier na die Varsitybeker en die USSA-toernooi wat die Kovsies in 2014 gewen het.

“Wat rugby betref, kom ek terug na my aanvanklike doelwit – om meer konstant die goeie prestasies van 2015 te herhaal. Ons kan beswaarlik vir ‘n beter jaar gevra het as om die Varsitybeker in 2015 te wen, maar nou kom die moeilike deel, om bo te blý”, het Prinsloo bygevoeg.

Krieket? “Ons is nie naastenby waar ons as KovsieSport wil wees nie. Inteendeel, ons is van die swakste universiteite in krieket. Ek glo ‘n geleidelike opwaartse kurwe is hier moontlik en met 'n aanwins soos Sean Whitehead, wat Suid-Afrika reeds op junior vlak verteenwoordig het, glo ek ons gaan goeie vordering toon.” 
Prinsloo is baie opgewonde oor sokker by Kovsies. Hy sê hulle was puik in 2013 en het in die halfeindronde van die USSA-toernooi slegs met in ‘n uitskopstryd verloor. Hulle het egter effens wipplank gery daarná. 

Hy voeg opgewonde by: “Ons het ‘n goeie span en ons bied boonop die USSA-sokkertoernooi, wat verlede jaar om verskeie redes uitgestel is, einde Maart by Kovsies aan. Hou ons gerus dop.”

Kovsies het verlede jaar ‘n bloutjie geloop in hokkie toe UJ hom in die eindronde van die vroueafdeling verslaan het. “Dit kan net beter gaan vanjaar,” het Prinsloo bygevoeg. “Buiten vir ons vyf Protea-spelers, kry ons nog vir Antonet Louw by.” Louw was twee jaar gelede een van die land se beste skole-hokkiespelers. 

Prinsloo sluit af dat daar so baie sportsoorte is waarin die Kovsies uitblink en hy sou graag wou hê hulle moet voortbou op dié prestasies. “Om net een voorbeeld te noem, ons is die huidige USSA-kampioenspan in tafeltennis en ons moet alles in ons vermoë doen om dié golf te bly ry.”