Kovsies weer eens in eindstryd

0
883
RUFUS BOTHA

‘n Vasberade Kovsies-netbalspan het Maandag in die halfeindstryd van die VarsitySport-reeks op die Kovsiekampus kliniese netbalspel opgedis en die Pukke met 51 – 45 druipstert teruggestuur Potchefstroom toe.

Die telling lyk weliswaar nie na ‘n yslike drag slae nie, maar dat die Kovsies alle afdelings van die spel oorheers het, is nie altemit nie.

Slegs een stukkie kritiek – die tuisspan het nadat hulle loshande voor was na die derde kwart, die voet van die versneller afgehaal en die Pukke ‘n tikkie hoop gegee dat hulle met ‘n groot terugvegpoging die wedstryd nog kon beklink. Maar die doelgaping was te groot vir die Pukke om ‘n oorwinning af te dwing.

In die eerste kwart het albei spanne met heelparty doelpogings misluk, maar dit kan toegeskryf word aan goeie verdediging deur albei spanne. Die Kovsies se kaptein, Karla Mostert (verdedigende doel) se akkurate aangeë na Ané Botha (aanvallende vleuel) en Lauren-Lee Christians (senter) het die Pukke hoofbrekens besorg. Die spanne het gaan draai met die telling 10 – 6 in die Kovsies se guns.

In die tweede kwart het die Kovsies se afrigtingspan besluit om weer die posisionele skuif te maak wat puik dividende teen die Madibaz tot gevolg gehad het. Die tuisspan se gereelde doelskieter, Danelle Willemse is as hulpdoel ingespan en Denielle van der Merwe as doelskieter. En, dit het wéér sukses tot gevolg gehad.

Dit was ‘n lus vir die oog om Willemse, wat meer beweegruimte gegun is as hulpdoel, dop te hou met haar taktiese spel en puik voorgevoel. Dit was ook verblydend dat Willemse telkens daar was wanneer Van der Merwe ‘n doelpoging-fout begaan (dit was ook maar min) om die bal op te raap en te sink.

Die kragspelperiode het in die einste kwart afgespeel en dis hier waar die Kovsies ontplof het om die telling van 16 – 12 na 24 – 12 te vergroot. Rustyd het aangebreek met die Kovsies aan die voorpunt met 27 – 14.

Met die aanbreek van die derde kwart het die Pukke gelyk of hulle ontwaak het en veral Lentsa Motau (verdedigende vleuel) en Zante Campher (senter) het goed gekombineer. Karla Mostert het egter die Pukke se doelskieter, Chanté Steyn, ontsenu en van ‘n paar moontlike doele beroof. Die Kovsies het na dié kwart ‘n gerieflike voorsprong van 43 – 31 geniet.

Met die aanbreek van die vierde kwart het die Pukke met ‘n verbete poging vorendag gekom terwyl dit voorgekom het of die Kovsies hulle aangeë oefen. Skielik was die skrif nie meer heeltemal aan die muur vir ‘n Kovsies-oorwinning nie, want die Pukke het die gaping na sewe doele (47 – 40) verklein, en daar was nog vyf minute oor. Die Kovsies het egter kopgehou en die eindtelling was 51 – 45.

Die Pukke se afrigter, Dorette Badenhorst, het na die wedstryd vir Courant gesê: "Ons het nie genoeg balbesit behou nie en ook nie vining genoeg by die Kovsies se wedstrydplan aangepas nie". Burta de Kock, die Kovsies se afrigter het gesê: "Ons het as ‘n ongelooflike eenheid gespeel. Die vertroue en geloof in mekaar was fantsties en ons het goed gebruik gemaak van die kragspelperiodes".

Danelle Willemse is aangewys as speler van die wedstryd en Courant wou by haar weet of sy nie die hulpdoel-posisie meer geniet as hoofdoel nie: "Ek is maar net te dankbaar om te kan speel, maak nie saak watter posisie nie. Ek geniet albei".

Intussen het Tuks Maandag hul onoorwonne rekord behou toe hulle die Maties met 68 – 46 afgeslag het. Die Kovsies kom Maandag in die eindronde teen Tuks in Pretoria te staan.