E Copy

Date:

Kovsies vyfde by USSA-pluimbalkampioenskappe

RUFUS BOTHA

Daar is ‘n gesegde wat lui: "een swaeltjie maak nie ‘n somer nie". Maar twee pluimbal-"swaeltjies" van die Kovsies wat nie toegelaat is om hulle span te verteenwoordig by die Suid-Afrikaanse studentekampioenskap (USSA) nie was sonder twyfel die hoofrede hoekom dié span slegs vyfde in die A-afdeling kon eindig.

Die Kovsies se twee pluimbalsterre, Elmé de Villiers en Sandra le Grange, is gekies om Suid-Afrika eersdaags by die Statebondspele in Glasgow (Skotland) te verteenwoordig. Daar is besluit dat spelers wat vir Glasgow gekies is nie aan die genoemde USSA-byeenkoms wat in Bloemfontein beslis is mag deelneem nie.

Vyfde klink swak, maar ‘n pluimpie moet gaan aan die Kovsies wat uiteindelik nié afgeransel is nie. In hulle verloorwedstryde teen die Pukke, Maties en Universiteit Kaapstad (UCT) was die tellings almal 2 – 3.

Die Kovsies het boonop die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) met 3 – 2 geklop.

Die Pukke het as oorwinnaars in die A-Afdeling uit die stryd getree.

Die grootste verrassing van die toernooi het egter gekom van die hoogs begaafde speler van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), Victor Mokoena.

Mokoena het in die uitspeelwedstryde puik enkelspelvertonings opgedis en toe hy sy oë uitvee, kom hy in die eindronde te staan teen Jamie McManus (UCT).

McManus is nie ‘n speler om lig op te neem nie. Hy het reeds die Groen en Goud vir die reënboognasie oor die kop getrek.

Mokoena is duidelik iemand wat hom nie aan groot name steur nie en het McManus laat sweet vir sy oorwinning van 21 -16 en 21 -18. Pluimbalkenners is dit eens dat Mokoena ‘n groot toekoms in dié sportsoort het.

info@bloemfonteincourant.co.za

Share post:

Popular

More like this
Related

Celebrate Human Rights Day at Oliewenhuis Art Museum in Bloemfontein

Oliewenhuis Art Museum invites the public to celebrate Human...

Boikhuco Old Age Home to host fundraising gala dinner in Mangaung

The Mangaung Society for the Care of the Aged...

Planned power interruptions in the city from 25-27 March

Residents from various areas in the Mangaung Metropolitan Municipality...

Making the most of your bonus this bonus season

While December is known for South Africa’s traditional 13th...