MARINé JACOBS
Studente op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) voel steeds veilig ondanks ’n onlangse roof by die Roosmaryn-koshuis. Dis volgens ’n aantal studente met wie Courant gepraat het oor hul veiligheid op kampus.
Sekurteitsmaatreëls is onlangs op dié kampus verskerp nadat twee studente Sondagnag, 11 November daar aangeval en beroof is. Woordvoerder van die UV, Lacea Loader, sê Alta Rall, ’n eerstejaarstudent, en haar vriend wat nie aan die UV studeer nie, is omstreeks middernag voor Roosmaryn-koshuis beroof.
Die UV het die voorval as skokkend vir die universiteitsgemeenskap beskryf.
Volgens Loader is universiteitskampusse dwarsoor die land kwesbare teikens vir misdadigers en sindikate en is die Kovsie-kampus steeds een van die veiliger kampusse.
Dit wil ook voorkom asof hierdie voorval nie die studente se gevoel van veiligheid verander het nie. “Ek voel baie veilig op kampus, selfs in die aande. Ons het niks om oor te kla nie,” sê Gomolemo Mholo (22). Sy voel sy is ook verantwoordelik vir haar eie veiligheid en moet die nodige voorsorgmaatreëls tref. “Ek sorg dat ek altyd in die aande in ’n groep is as ek op kampus loop.” Die 23-jarige Moipone Seetsi sê ook dat sy so ver as moontlik die nodige veiligheidsmaatreëls probeer handhaaf, maar voel ook die universiteit moet haar veiligheid op kampus kan verseker. “Ek dink nie Kovsie-kampus is noodwendig veiliger as ander kampusse nie,” sê Seetsi. “Daar was ’n tyd wat jy jou studentekaart moes toon om toegang tot die kampus te kry. Nou kan enige iemand vrylik op die kampus kom.”
Nicola Price (21) sê dat sy probeer om eerder nie snags op kampus te wees nie, en ervaar geen vrees deur die dag nie. Lineo Kamano (22) stem saam dat dit saans gevaarliker op kampus is, maar voel studente moet bewus wees van hul omgewing en om hul besittings veilig te hou. “Dit is baie veilig op kampus. Ek moet my besittings oppas en sal eerder nie alleen in die aande loop nie. Die universiteit het beslis goeie veiligheidsmaatreëls in plek,” sê Moddie Nyahwo (30).
Loader sê die universiteit doen alles in hul vermoë om die studente se veiligheid te verseker. As voorbeeld noem sy nuwe “paaltjies” wat op die kampus aangebring is om met beveiliging te help. Die paaltjies het ’n kamera wat deur sonkrag aangedryf word, asook ’n paniekknoppie. As ’n student onveilig voel of hulp nodig het, kan hulle slegs die knoppie druk wat die kamera 360° rondom die paaltjie aktiveer en sekuriteitspersoneel ontbied. “Studente word ook versoek om steeds te let op hul veiligheid en om byvoorbeeld nie alleen in donker of swak verligte areas op kampus rond te loop, waardevolle items in hul motors te los, ensovoorts nie,” sê Loader.