Die verdedigende kampioen, Kovsies, het Sondag ondanks ‘n vasberade terugvegpoging in die laaste kwart van hul Varsity Sports-netbalwedstryd teen hulle eweknie van Pretoria, Tuks, vasgeval.
Tuks was van meet af aan in beheer in die wedstryd wat in die Callie Human-sentrum op die Kovsiekampus beslis is. Daarenteen het Kovsies stadig uit die blokke gekom en na ses minute was hulle reeds 3 – 7 agter.
Hanteerfoute was aan die orde van die dag onder Kovsie-geledere en boonop was die aanvalsdriehoek van die besoekers, Lenize Potgieter (doel), Melissa Myburgh (hulpdoel) en die woelige senter, Izelle Lubbe, ‘n handvol vir Kovsies se verdediging.
Saam met die stadige begin het die Kovsies hopeloos te veel besit afgestaan.
Die spanne het na die eerste kwart gaan draai met die telling op 14 – 10 in die besoekers se guns.
Kovsies het in die tweede helfte van die tweede kwart lewe gekry en veral kaptein Karla Mostert was puik. Haar onderskeppogings was ‘n doring in die vlees van Tuks se aanvallers.
Die tuisspan het ook meer van hulle blitse, Ané Botha (aanvallende vleuel) en Lauren-Lee Christians (verdedigende vleuel) gebruik gemaak – iets wat dalk vroeër moes gebeur het, want dit het duidelik ‘n positiewe verskil gemaak aan die Kovsies se aanvalle.
Na die tweede kwart het die Tuks steeds ‘n gerieflike voorsprong van 27 – 20 geniet.
In die derde kwart het dit weer gelyk soos ‘n Kovsies-kampioenspan, maar Tuks het koelkop gebly om steeds voor te loop (43 – 34) na die derde kwart.
Toe kom die Kovsies in die laaste kwart met spel wat hulle ondersteuners lig laat sien het vir ‘n moontlike oorwinning. Tydens die kragspel (power play) het die Kovsies met uitmuntende vaart teruggeveg en skielik het die hele span skitterende spel opgedis.
Die telling het gekrimp na slegs 44 – 47 in Tuks se guns en dit het geblyk dat Kovsies een van sy grootste oorwinnings van agter af kon vermag. Tuks het egter koelkop gebly en uiteindelik gewen (54 – 48).
Die kaptein van Tuks, Melissa Myburgh, het na die wedstryd vir Courant gesê: "Ek is gelukkig met ons strategiese spel en hoewel die Kovsies druk op ons geplaas het teen die einde, was ek deurgaans positief dat ons die wedstryd sou beklink". Tuks se afrigter, Jenny van Dyk, het bygevoeg: "Ek is tevrede, maar ons sal moet werk om ons intensiteit tot by die eindfluitjie te behou".
Die Kovsies se hulpafrigter en voormalige Protea-speler, Karin Venter, het aan Courant gesê: "Hoewel ons ‘n jong span is, het ons onnodige foute begaan, terwyl kaptein Karla Mostert nie doekies omgedraai het nie: "Ons het heelwat stupid foute gemaak, maar tydens die power play het ons gewys waartoe ons in staat is."