Daar word gereeld onder sportlui gepraat van “peak op die regte tyd”, en dit is presies wat die Kovsies se netbalspan onder leiding van hulle skitterende afrigter, Burta de Kock, Maandagaand in Pretoria gedoen het. Hulle die Universiteit van Pretoria (Tuks) ‘n einstryd-netballes geleer het wat lank onthou sal word.
Tuks was die oorweldigende gunstelinge om die eindstryd voor hulle tuisskare te wen nadat hulle in aanloop na die eindstryd al sewe wedstryde gewen het en ‘n doelgemiddeld van 85 – 36 daargestel het.
Die Kovsies het darenteen in die opbou na die eindstryd teen die einste Tuks vasgeval (48 – 54) en gelykop gespeel teen die Pukke (45 elk). Die Kovsies se doelgemiddeld (68 – 40) was ook heelwat laer as dié van Tuks. Die Kovsies se spelpeil het egter deurgaans ‘n opwaartse kurwe beleef.
Die pas waarmee die twee spanne mekaar in dié eindstryd getakel het, het aanvankilk versigtig voorgekom, maar dit was nie twee minute nie en die Kovsies het Tuks met ‘n warrelwind van doele getref om na vyf minute reeds 5 – 1 voor te trek.
Die Kovsies se kaptein, Karla Mostert (verdedigende doel), het gereelde omgekeerde besit bewerkstellig met uitstekende verdediging.
Met die twee blitse, Ané Botha (aanvallende vleuel) en Lauren-Lee Christians (senter), aan die ontvangkant van Mostert se puik aangeë, het die bal gereeld netjies in Danelle Willemse (doel) se hande beland.
En, vir die doemprofete wat in die wandelgange gefluister het dat Willemse nie druk kan hanteer nie, sy het hierdie wandelgange stewig toegemessel met die een na die ander geslaagde doelpoging. Willemse het na die eerste twee kwarte met 17 van haar 19 doelpogings geslag.
Met die wind uit die Tuks-seile het die Kovsies gedy en hoewel hulle geduldig gespeel het, het hulle kanse berekend waargeneem om aan die einde van die eerste kwart met ‘n reusetelling van 13 – 5 voor te loop.
In die tweede kwart het Tuks beter vertoon en meer balbesit geniet, maar hulle was duidelik onseker wat om met die bal te doen. Mostert en haar suster Tanya het boonop vir Tuks se aanvaller Melissa Myburgh en Vanes-Mari du Toit hoofbrekens besorg.
Met ‘n flikkering van hoop aan die Tuks-kant, het die Kovsies veral in die tweede helfte van die tweede kwart komkommerkoel gebly, hulle tempo gelig, en halftyd ingegaan met die telling 22 -16 in die Bloemfonteiners se guns.
Die derde kwart was die Kovsies steeds in beheer met balbesit en gebiedsvoordeel en veral Christians het die Kovsies se doelskieters, Willemse en Danielle van der Merwe met akkuraatheid gevoer.
Die eerste kragspelperiode (power play) het in dié kwart aangebreek en weer was die Kovsies beter daaraan toe. Die telbord het in die kragspel van 26 – 18 na 30 – 22 in die Kovsies se guns aangerol.
Met nóg skitterende afronding deur Willemse het spelers die toeter vir die einde van die derde kwart op 39 – 31 aangehoor.
In die vierde kwart het die tweede kragspelperiode plaasgevind, maar weer eens kon Tuks dit nie uitbuit nie. Na dié kragspelperiode het die Kovsies kat-en-muis gespeel met Tuks en die bal na willekeur vir mekaar rondgegooi.
Met drie minute oor was die telling 46 – 40 in die Kovsies se guns en nie eers die preekstoel kon die koeël deur die Tuks-kerk keer nie.
Met die eindtelling op 49 – 42 is die Kovsies die tweede jaar agtereenvolgens gekroon as die Varsitynetbaltrofee-kampioene en altwee iendrondes was wegwedstryde vir die Bloemfonteiners.
• Die Kovsies se kaptein, Karla Mostert is aangewys as speler van die toernooi en die kookwatersenter van die Kovsies, Lauren-Lee Christians ,as speler van die eindstryd.
‘n Verheugde Mostert het na die wedstryd gesê: “Ons het ons beste vir laaste gelos. Niks is verby voor die eindfluitjie nie geblaas het nie.”