Kovsies-netbal beleef ongekende jaar

0
630
RUFUS BOTHA

Nóg ‘n onderskeiding wat nie aldag in enige sportsoort gesien word nie, het Kovsies-netbal te beurt geval. En dit so aan die einde van ‘n skitterende jaar wat dié bobaas-netbalklub beleef het.

Nie minder nie as vyf Kovsies is ingesluit in die Suid-Afrikaanse onder 19-span van 12 lede wat die Reënboognasie gaan verteenwoordig by die Sone 6 (Afrika-suidstreek)-toernooi wat van 2 tot 16 Desember in Zimbabwe beslis word.

Die vyf voorslagjuniors is Denielle van der Merwe (hoof- en hulpdoel), Rieze Straueli (hoof- en hulpdoel), Khomotso Mamburu (hulpverdediger), Maryke Coetzee (verdediger) en Alicia Puren (verdediger en hulpverdediger).

Courant het met die Kovsies se afrigter, Burta de Kock, gesels oor dié onderskeiding: "Ons het vanjaar ‘n ongelooflik geseënde jaar beleef en dit is slegs genade van Bo wat ons dit kon laat bereik het", het sy gesê.

Op Courant se vraag of daar al ooit voorheen vyf spelers van een klub in ‘n nasionale netbalspan ingesluit is, het De Kock gesê: "Kovsies het in 2006 sewe spelers in die Protea-span gehad, maar dit was sewe uit ‘n groep van 15".

Die Kovsies het vroeër vanjaar met drie spelers in die Protea-span gespog toe Maryke Holtzhausen (kaptein), Adéle Niemand en Karla Mostert vir die nasionale senior span uitgedraf het.

Lauren-Lee Christians en Ané Botha was boonop ingesluit in die Suid-Afrikaanse Universiteitespan wat goud verower het by die Afrika-studentespele in Zambië. Christians het dié span aangevoer.

Einde is dit nog nie – Holtzhausen en Christians in onlangs ingesluit in die Suid-Afrikaanse Fast 5-netbalspan wat die land gaan verteenwoordig by die Fast 5-wêreldtoernooi wat Saterdag in Auckland, Nieu-Seeland begin. Die Suid-Afrikaners stamp Saterdag reeds koppe met Australië, Jamaika en Engeland.

Nóg ‘n pluimpie – Holtzhausen is kaptein van dié span en Christians onderkaptein.

info@bloemfonteincourant.co.za