Kovsies en reën die wenners by USSA-week

0
459
Duan Jansen FOTO: POTCHEFSTROOM HERALD

Die Universiteit van die Vrystaat Kovsies en die reën was vanjaar die groot wenner tydens die 2019-USSA-krieketweek wat deur die Universiteit van die Witwatersrand aangebied is, terwyl die Studente van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) na Bloemfontein teruggekeer het met gebroke harte.

Kovsies sal weer in die A-afdeling van die toernooi speel, terwyl die Studente tot die B-afdeling gerelegeer is.

Die Studente het in hul eerste wedstryd met 7 paaltjies teen die Universiteit van Wes-Kaapland vasgeval nadat hulle binne 36 boulbeurte vir ‘n skamele 123 lopies uitgeboender is. Die span van die Kaap het slegs 22.4 boulbeurte nodig gehad om dié klein teiken te bereik.

Die volgende dag het die span van die Rosestad lelik les opgesê toe hulle deur die Universiteit van Stellenbosch Maties ‘n 10-paaltjie- pakslae uitgedeel is. Die Studente het weer eens eerste gekolf en is vir slegs 70 in 22.2 boulbeute uitgeboul. Maties was haastig met hul kolfwerk en het in 9.3 boulbeurte 73 lopies sonder verlies van ‘n paaltjie gemoker vir ‘n groot sege.

Weens die reën was geen spel moontlik vir die wedsryde tussen SUT en die Universiteit van Johannesburg, asook teen die Unversiteit van Kaapstad nie.

Kovsies het op hul beurt hul toernooi van stapel gestuur met ‘n twee-paaltjie-oorwinning teen die Universiteit van KwaZulu-Natal op dag een. UKZN het eerste gekolf en is vir ir 103 lopies in 33.4 boulbeurte uitgeboul.

Kovsies het ietwat gesukkel met die wilgerlat, maar die snelbouler, Jansen, het 26* aangeteken, terwyl Ivan Kriek met 16 en Van Staden met 13 bygedra het.

Op dag twee het Kovies die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) ordentlik geslag met ‘n reuse-278-lopie-oorwinning en dit was ook by verre die beste vertoning deur die twee Bloemfontein-spanne in die toernooi. Dit was ook die Kovsies se belangrikste oorwinning van die jaar.

Kovsies het eerste gekolf en 318/9 in hul toegelate 50 boulbeurte aangeteken. Dit dansy ‘n uitstekende 135 vanaf 134 balle deur Wihan Victor. In sy beurt het die aanvangskolwer 16 viere asook 3 sesse gemoker. Victor is goed ondersteun deur Phillip Visser wat op sy beurt 6 viere en 2 sesse geslaan het vir sy bydrae van 72 lopies. Die Vrystaters het geweet dat hulle die Pretorianers tot minder as 75 lopies moet beperk.

TUT is in hul powere kolfbeurt vir ‘n skamele 40 lopies in 16.2 uitgeboul. Die linkerarm-hemelbesem van Kovsies, Jansen, was by verre die uitblinker met die bal met sy vyf paaltjies vir 19 lopies in ses boulbeurte. Marno van Greuning het self sy stem dik gemaak ‘n boulontleding van 3/3 in 2.2 boulbeurte. Ncedane en Kheswa het elk een paaltjie platgetrek.

Weens die reën kon Kovsies nie teen die Universiteit van Fort Hare of teen die Nelson Madela Universiteit Madibaz George meeding nie, en is hulle reguit met bevordering deur na die eindstryd teen die gasheer, Wits.

Dié kragmeting kon egter ook weens die weer nie plaasvind nie. Maar, Kovsies is egter bevorder die A-afdeling weens hulle goeie netto lopietempo wat daartoe gelei dat hulle bo-aan die punteleer geëindig het.

Jansen is as die speler van die B-afdeling aangewys en hy is ook vir die SA Universiteite-span gekies. – MORGAN PIEK