Kovsies eindig vyfde by USSA-kampioenskappe

0
834
Gemeet aan die IAAF-ranglys van beste vertonings in die wêreld in 2018, het Linique Beneke die naweek by die USSA- (SA Universiteite) atletiekkampioenskappe wat op Stellenbosch die beste vertoning onder die Kovsies se goue medaljewenners opgedis. Sy is as kampioen in die verspring vir vroue gekroon. FOTO: ACTION PHOTOS

Gemeet aan die huidige standaard van universiteite-atletiek in SA, is die Kovsies se vyf individuele titels by die USSA (SA Universiteite)- atletiekkampioenskappe wat die naweek op Stellenbosch beslis is, nie te versmaai nie, maar gemeet aan wêreldatletiekstandaarde is dit ook nie té waffers nie.

Die Kovsies het in die algemene spankompetisie vyfde geëindig nadat onderskeidelik die Pukke, Tukkies, die Universiteit van Johannesburg (UJ) en Maties voor hulle geëindig het.
Linique Beneke se eerste plek in die verspring vir vroue het kop-en-skouers bo die ander titelwenners onder die Kovsies uitgestaan, dit gemeet aan die IAAF-ranglys van beste vertonings in 2018.

Beneke het op ‘n mooi afstand van 6,56 m in die sandpunt geland om die silwermedaljewenner, Eljoné Kruger (Pukke, 6,42 m), met 12 sentimeter te wen. Helene Peens (Tukkies, 6,21 m) was derde.

Beneke se vertoning was die enigste van die Kovsies se gouemedaljewenners wat onder die top-100 (63ste) op die genoemde IAAF-ranglys van 2018 sou verskyn het. Die voorste atleet op dié ranglys, Lorraine Ugen (Britanje), het verlede jaar oor die sewe meter (7,05 m) gespring. Gebruik jy slegs genoemde ranglys as barometer vir die Kovsies se gouemedaljewenners se vertonings, was Yolandi Stander se klinkklare oorwinning in die diskusgooi vir vroue die naasbeste. Sy het 54,00 m gegooi en die tweede atleet, Ischke Senekal (Madibaz, 50,08 m), maklik afgeransel.

Die bronsmedaljewenner, Leandri Geel (UJ, 48,89 m), het ook geen teenvoeter vir dié Kovsie se wengooi gehad nie. Stander se afstand sou haar ‘n 149ste plek op genoemde IAAF-ranglys besorg het. Die voorste gooi in die wêreld in 2018 pryk op ‘n reuse-71,38 m.

Die Kovsies se haastige stapper, Mthembi Chauque, het met een van die oortuigendste oorwinnings van die USSA-kampioenskappe vorendag gekom toe hy die 20-km-stap in 1:31:52 sy eie gemaak het. Hy het die onderskeidelike silwer- en bronsmedaljewenners, Tumisang Pule (TUT, 1:38:10) en Mzwakhe Mavundla (1:40:36), na beginners laat lyk. Maar, kyk jy na die genoemde IAAF-ranglys, het Chauque (473ste) nog harde werk wat voorlê om die voorloper, Sergey Shirobokov (Rusland, 1:17:25), slapelose nagte te gee.

Die Olimpiese Spele (2016) 800 m-atleet, Tsepang Sello, het in die 1500 m gewys dat haar veggees grens aan ongelooflik, en het dié nommer in haar beste tyd (4:24,65) gewen. Haar 800 m-vaart het gehelp en het haar ‘n kortkop-oorwinning oor Aynslee van Graan (Tukkies, 4:24,84) besorg.

Leandra du Bruyn (CPUT, 4:26,07) was derde. Sello se tyd sou haar op die IAAF-ranglys die 781ste plek besorg het. Die voorloper op dié lys was die Ethiopiër, Genzebe Dibaba (3:56,68), bykans 30 sekondes vinniger as Sello.

Sello se tweede plek in die 800 m (2:05,04) plaas haar egter hoër (290ste) op die IAAF-ranglys. Hier is SA se eie Caster Semenya eerste op die lys met ‘n kookwater 1:54,25.
Die Kovsies se vyfde goue medalje is deur Tyler Beling in die halfmarathon (21,1 km) vir vroue ingeoes. Beling, wat verlede jaar die pragonderskeiding behaal het deur as SA junior kampioen op die baan-veldwedloop en padwedloop gekroon te word, het die halfmarathon in ‘n beskeie 1:20:28 gewen, maar ter versagting, dit is ‘n goeie terugkeer na kompeterende atletiek nadat sy lank gesukkel het met ‘n besering. Beling het die silwermedaljewenner, Rachel Leistra (UJ, 1:21:27), met een sekonde kort van ‘n minuut agterweë gelaat. Mia Steyler (Maties, 1:21:50) moes met die bronsmedalje tevrede wees.

Beling se tyd het egter nie goed vertoon volgens die genoemde IAAF-lys nie. Haar tyd sou haar die 1040ste plek besorg het. Die vinnigste tyd (1:04:52) verlede jaar is deur Fancy Chemutai (Kenia) aangeteken en sy het meer as 15 minute vinniger as Beling gehardloop. Beling se derde plek in die

10 000 m lyk effe beter op die ranglys. Haar tyd van 36:17,17 sou haar 939ste geplaas het, met die nommer een, Pauline Kamula (Kenia) wat verlede jaar 30:41,85 vermag het. – RUFUS BOTHA