Kovsies-atlete reg vir uithalerseisoen

0
837
RUFUS BOTHA

Dit is duidelik dat drie van die Kovsies se naellopers en die puik middelafstandatleet van Kovsieland, Dumisane Hlaselo, gereed is vir ‘n kookwaterseisoen op nasionale vlak.

Hierdie vier atlete het deeglik van hulle laat kennis neem by die HTS Louis Botha-uitnodigingsatletiekbyeenkoms wat in Bloemfontein beslis is.

Onder die naelopers het Gideon Trotter, Bevin Smith en Wayde van Niekerk uitstekende tye vir só vroeg in die seisoen aangeteken. Vroeg, veral as in ag geneem word dat daar eers in Augustus vanjaar ‘n wêreld-seniorkampioenskap in China op die agenda is.

Trotter het Vrydag in die 100m vir mans ‘n haastige wentyd van 10,34 aangeteken.

Dit is nie veel stadiger as sy beste ooit van 10,29 nie. Laasgenoemde tyd plaas hom onder die top-20 senior atlete van alle tye in Suid-Afrika in dié nommer. Trotter se oefenmaat en Suid-Afrikaanse senior rekordhouer in die 400m (44,38), Wayde van Niekerk, het Vrydag ‘n 20,72-wentyd in die 200m afgeblits, heelwat stadiger as sy beste 20,19.

Bevin Smith het in die naellope vir vroue nie haar gelyke gehad nie. Sy het die 100m in ‘n goeie 11,95 gewen. Die hekkiesloper, Lizzy Kriel (Kovsies, 12,16), het egter seker gemaak van ‘n tweedeplek.

Smith het ook die 200m in ‘n mooi 24,50 gewen terwyl Kriel (tweede, 25,53) hier verder agter was. Kriel het egter haar waarskuwing aan die land se voorste vroue-hekkiesatlete onderstreep toe sy die 100m-hekkies Vrydagaand in ‘n kookwater 14,58 gewen het.

Hlaselo het in die 1500m gemik na ‘n tyd van 3:45 en het sy Kovsiespanmaat en 800m-spesialis Hannes Naudé ingespan om vir hom die pas oor die eerste twee rondtes aan te gee. Naudé het hom skitterend van sy taak gekwyt en Hlaselo in 1:57 by die 800m-merk deurgevat. Daarna was dit egter Hlaselo teen die stophorlosie.

Hy uiteindelik in ‘n goeie binnelandse tyd van 3:45,56 behaal. Hlaselo is sedert 2008 die Suid-Afrikaanse junior rekordhouer (3:38,15) in dieselfde nommer en soos hy nou vertoon, hou hy belofte in om weer wêreldklastye te hardloop.