Kovsie-studente wen Landboustudent van die Jaar-kompetisie

0
683
Chéri-Lynn Steyn en Mario van den Heever. Photo: Leonie Bolleurs

Twee Landbouwetenskap-studente aan die Universiteit van die Vrystaat het ‘n eerste plek behaal in die Old Mutual en die landboumaatskappy, Plaas Media, se Landbouwetenskap Student van die Jaar-kompetisie wat onlangs in Parys gehou is.

Cherí-Lynn Steyn is benoem as die beste Landbou-ekonomie-student, en Mario van den Heever as die beste Landbouwetenskap-student.

Cheri-Lynn is tans besig met haar finale jaar B.Sc (Landbou) in Dierewetenskap en Landbou-ekonomie. Nadat sy haar meestersgraad behaal het, wil sy graag modelprogramme vir lewende hawe skryf vir voerkraal- of weistelsels. “Dit is iets wat my fassineer,” sê Cheri-Lynn.

Mario wil na sy meesters die entrepreneuriese roete volg. Nadat hy die kompetisie gewen het, glo hy dat sy gekose studieveld die regte beroep vir hom is.

Die hoofdoel van die kompetisie is om studente aan te moedig om ‘n beroep in landbou te volg. Studente  word dus gemotiveer om krities te reflekteer op belangrike sake in die lankbousektor.

Studente van die landboufakulteite van die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit van Pretoria, Stellenbosch Universiteit en die Universiteit van KwaZulu-Natal het aan die kompetisie, wat van 17 – 21 September gehou is, deelgeneem.

Hulle moes onder meer ‘n werkstuk van 5 000 woorde oor ‘n voorgeskrewe onderwerp indien. Hierna is ‘n semi-finaal gehou by elke universiteit waartydens werkstukke en die beste student in elk van die onderwerpvelde vir daardie spesifieke universiteit gekies is. Die studente het meegeding in die kategorieë Landbou-ekonomie, Dierewetenskap en Oesproduksie.

In Landbou-ekonomie – die kategorie waarin Cheri-Lynn benoem is as wenner – is die onderwerp grondonteiening sonder vergoeding ondersoek en die vraag is gevra of Suid-Afrika enige sosio-ekonomiese voordeel uit die voorgestelde onteiening sou kry.

In Dierewetenskap – wat gewen is deur Mario – moes studente die Suid-Afrikaanse vleiskassifikasiestelsel ondersoek. Die vraag wat gevra is, was of die huidige stelsel verander kon word om in die behoeftes van moderne vleisverbruikers kan voorsien ten opsigte van vleisgehalte en of ‘n internasionale graderingstelsel aanvaar moet word.

Die hoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die UV, dr. Frikkie Maré, sê hy is trots op die studente. Albei is tans navorsingsassistente in die departement.

“Die UV berei sy student baie goed voor vir die werkplek. Daar is baie geleenthede om blootstelling te kry in die bedryf; ons het bykans elke week iemand van ‘n bekende maatskappy gekry om met ons te praat as studente, of selfs ‘n kursus, ‘n kongres of ‘n boeredag bygewoon,” sê Cheri-Lynn.

info@bloemfonteincourant.co.za