Kovsie student vervals sy eie dood; kan geskors word

0
Kovsie student vervals sy eie dood; kan geskors word

‘n Student aan die Universiteit van die Vrystaat staar moontlike skorsing in die gesig nadat hy sy eie dood nagemaak het.

Thabiso Moholoholo het op 9 Oktober 2012 van die Bloemfontein-kampus ‘verdwyn’ terwyl hy na bewering op pad was na die UV-Sasol-biblioteek. Hy was tydens sy verdwyning ‘n tweedejaarstudent wat besig was met die BSc Omgewingstudiesprogram, en was ‘n inwoner van Tswelopele-koshuis op die Bloemfontein-kampus.

Die universiteit se Beskermingsdienste, met behulp van die SAPD, het baie moeite gedoen om na hom te soek tot en met sy opsporing. Die speurwerk van die bekende privaatspeurder, Leon Rossouw, was ook van groot waarde in die saak.

Kort na sy verdwyning is ‘n boodskap op sy Facebook-blad geplaas dat hy dood is en foto’s van hom het verskyn waar hy met sy bebloede gesig (so het dit gelyk), na onder lê. Dit is opgevolg deur ‘n soortgelyke sms-boodskap aan ‘n vriend.

Daar is nou ontdek dat Thabiso op eie inisiatief verdwyn het en dat hy die gewelddadige foto’s op sy Facebook-blad met behulp van ‘n vriend nagemaak het.

Die senior leierskap van die universiteit en die koshuisleierskap is vanselfsprekend verlig dat hy gevind is en bedank almal wat onvermoeid gewerk het om die student op te spoor.

Die universiteit het baie tyd spandeer en het sy beperkte finansiële en menslike hulpbronne tot die uiterste beproef in ‘n poging om die sogenaamde vermiste student te vind; sulke gedrag is absoluut onaanvaarbaar. Die spanning op die familie, medestudente en die universiteitsgemeenskap as ‘n geheel, is onberekenbaar.

Die universiteit beskou dus hierdie opgevoerde verdwyning in ‘n baie ernstige lig en sien hierdie daad as baie ernstige wangedrag deur ‘n student wat kan uitloop op dissiplinêre aksie en moontlike skorsing.

Mediaverklaring

No posts to display