Kovsie inspireer en blink uit

0
2181

GEORG VAN ECK

’n Heerlike verhaal van inspirasie en toewyding met ’n kinkel of twee en niemand geniet dit meer as die heldin van die verhaal nie.
Louzanne Coetzee, sprankelende Kovsiestudent in Koöperatiewe en Bemarkingskommunikasie in haar tweede jaar, wat Vrydag by die Martie du Plessis-skool in Bloemfontein as motiveringspreker opgetree het, is inderdaad ’n inspirasie.
Sy is ’n slimkop en ontluikende atleet vir wie groot dinge voorspel word. Sy het só vinnig gevorder dat sy van gidse moes verander omdat haar aanvanklike gids nie oor die langer afstande kon byhou nie.

Ja, die blondekop-Kovsie is blind en hardloop en oefen dus saam met ’n gids.
Die Bloemfonteiner van die Pionierskool vir Blindes op Worcester was van Graad R tot Graad 12 in dié skool en sy het haar skoolloopbaan op ’n hoogtepunt as hoofmeisie afgesluit met ses onderskeidings in matriek.
Niemand geniet dit meer as Louzanne om die verhaal van haar toetrede tot atletiek te vertel nie, maar sy wil eerder hê die persoon wat direk vir haar atletiekdeelname verantwoordelik is, haar vriendin, oefenmaat en gids, Ncebakazi Nutuli, moet vertel. “Ek was verlede jaar Roosmaryn-koshuis se HK-lid vir sport en het een atleet vir die eerstejaarsatletiekbyeenkoms te min gehad. Ek het besluit om Louzanne vir die 100 meter-naelloop in te skryf. Ek het geweet sy is blind, maar het geredeneer dat die 100 meter ’n reguit-wedloop is en daar dus geen draai was wat sy moes oorkom nie. Ek het haar ingeskryf en die res is geskiedenis,” vertel Nebs tot groot vermaak van Louzanne en hul oefenmaats.
Deesdae is Rouxné Vermaak, ’n dieetkundige en atleet van Bloemfontein, haar gids oor die langer afstande omdat sy sedert daardie eerste 100-naelloop langer afstande begin hardloop het. Eers vir die genot, maar nadat sy haar tyd van 60 minute oor 10 km na 51.44 minute in Bloemfontein Achilles se Kloppers 10 km-wedloop verbeter het en Rufus Botha, bekende afrigter van die Rosestad, haar onder sy vlerk geneem het, het dinge begin gebeur. Op die baan het sy haar tyd in die 5 000 meter in ’n paar maande van 26:06 na 24:38 verbeter. Dit is 1 minuut 18 sekondes vinniger as die kwalifiserende tyd om aan die nasionale kampioenskappe deel te neem.
Daar is nog nie ‘n nasionale of Afrika-rekord vir haar kategorie (T-11) nie.
Haar afrigter se mikpunt is dat sy binne ’n paar jaar die eerste blinde vrou ter wêreld sal word om die 5 000 meter onder 20 minute af te lê.