Koue demp nie Aandmark se gees

0
5064
Die eienaar van Urth Garden Centre, Risna Opperman, saam net Lydia Dichaba (links) en Seokoang Seame by gisterdaand se Aandmark.

 

Die effense byt in die winterlug kon nie gisteraand Bloemfonteiners weghou van die uiters gewilde Aandmark by die Urth Garden Centre in die noorde van die stad nie.

Mense het in hul honderde opgedaag om te kom inkopies doen of sommer net die lekker atmosfeer te geniet. Lekker warm kos en drinkgoed asook oop vure wat oral op die terrein gebrand het, het die ergste koue verdryf.

Risna Opperman, eienaar van Urth, sê sy was nogal bekommerd dat mense nie gaan opdaag nie omdat dit die eerste aandmark van die winter is.

“Die mense het my egter aangenaam verras. Ons het ongetwyfeld die gewildheid van die aandmark onderskat. Ons wou graag ‘n geleentheid skep waar mense ‘n aand uit kan geniet in ‘n veilige omgewing en uitstkende atmosfeer. En duidelik is dit presies wat die mense wou gehad het.”

Van die besoekers by gisteraand se aandmark was van links Daniel Joubert, Mpho Masitso, Boitumelo Zwane en Rico Bloemhoff.

Daniel Joubert, een van die talle besoekers aan die aandmark met wie Bloemfontein Courant gesels het, sê dit is die derde keer dat hy die aandmark besoek.

“Daar is bittermin geleenthede soos hierdie in Bloemfontein, waar jonk en oud saam kan kuier. Die atmosfeer is ongelooflik en dit is ‘n uitstekende geleentheid om nuwe vriende te ontmoet.

Lydia Dichaba, ook ‘n gereelde besoeker aan die aandmark, sê veiligheid is vir haar belangrik en die aandmark bied dit.

“Die kos is lekker en die drank is waarde vir geld. Om nie eens te praat van die lekker atmosfeer nie. En as ek al hierdie dinge kan kry in ‘n veilige omgewing waarin jy met respek behandel word, dan is ek gelukkig.”

Die Aandmark word een keer ‘n maand by Urth gehou. Vir datums en meer inligting bel gerus vir Opperman by  0828086470. – Pieter Delport

pieterd@mahareng.co.za