Kotze vier goue jubileum as skilder in Bloemfontein

0
4229
Floris Kotze en sy pa, die bekende skilder Kobus Kotze, voor van die 50 skilderye wat uitgestal word. FOTO: SANDRA MULDER

Die bekende skilder, Kobus Kotze, sal nie gou die verfkwas neerlê nie. Skilder is sy liefde en vir 50 jaar reeds sy bron van inkomste. Om vir 50 jaar voltyds te skilder, ‘n lewe daaruit te maak en landwyd bekend te raak, is inderdaad ‘n groot gebeurtenis.
Die 50 jaar-herdenking word dié week by die Kotze Galery in Bloemfontein met ‘n uitstalling van 50 Kobus Kotze-skilderye gehou. Sowat 22 van die skilderye is nog nooit deur die publiek gesien nie.
Kotze (78) onthou nog die jaar 1967 toe hy begin skilder het. “Ek het met waterverf en olieverf begin, maar daardie tyd het die galerye en kunshandelaars olieverfskilderye verkies. Ek onthou ook hoe iemand in 1976 ‘n skildery gekoop en oor drie maande afbetaal het. Die eerste maand is R5 gegee, die volgende maand R10, en toe weer R10,” lag Kotze.
Sy seun, Floris, herdenk ook sy 20 jaar as bemarker van kunswerke. Hy het die spesiale herdenkingsuitstalling van sy pa gehelp reël.
Hulle wei uit oor die sowat 22 skilderye wat nog nooit deur die publiek gesien is nie. “My pa het ná die jaar 2000 skilderye begin terughou. Dit is ongeraamd agter gehou,” vertel Floris. Volgens Kotze senior het hy die beste skilderye agter gehou om voorsiening te maak vir later jare.
“Ek het nog elke dag iets met kuns te doen. Ek skilder nie noodwendig elke dag nie, maar lees oor ander kunstenaars. Ek het agting vir die werke van Pieter Wenning, Hugo Naudé en Boonzaaier.”
Kobus Kotze se werke word regoor die land in verskeie galerye uitgestal. Hy beeld landskappe, straat- en plaastonele in sy skilderye uit.
“Baie van die tonele is denkbeeldig. Van die ander is werklike tonele wat ek van foto’s af geskilder het,” sê hy.
Kotze is ook assosiaat van die Waterverf Genootskap van Suid-Afrika. ‘n Paar van die Kotze-skilderye wat tans in die galery in Dan Pienaarrylaan gesien kan word, is ook waterverfskilderye.
Mense het tot Saterdag tyd om die herdenkingsuitstalling te besigtig. – Sandra Mulder 
sandram@centralmediagroup.co.za