Kobus Kotzé, ’n kunstenaar wat oorspronklik van Aliwal Noord is, maar in Bloemfontein woon, gaan sy 55 jaar in die kunsbedryf vier deur 55 van sy kunsstukke uit te stal.
Kotzé het op die ouderdom van 29 in 1967 vir die eerste keer sy hand aan ‘n kwas gewaag en sedertdien spandeer hy sy tyd bedags in die natuur en saans in sy ateljee.
“Ek spesialiseer in waterverf en olieverf. Altwee mediums het ‘n tyd en plek afhangend van die emosie wat ek wil weergee,” sê hy.
Kotzé hoop om positiwiteit deur sy kuns na vore te bring. Nie net dit nie, maar om ook die liefde vir die natuur aan te moedig, asook liefde vir sy Skepper. “Die gawe om te kan skep, navorsing te doen en altyd gereed om inspirasie uit die natuur te put; om alleen in my ateljee te kan skilder en ‘n inkomste te verdien met iets wat meer soos ‘n stokperdjie as soos werk voel – dit is die beste deel van kunstenaar wees.”
As Kotzé terugkyk na die afgelope 55 jaar voel hy dat hy nie enige hoogtepunte kan uitwys nie, aangesien daar te veel is om te tel. “My hele kunsloopbaan is een groot hoogtepunt. Daar was vele spesiale uitstallings en feeste deur die land, waarvan dit moeilik is om een uit te sonder. Dit is baie inspirerend om ander kunstenaars te ontmoet en blywende vriendskappe oor jare te behou,” sê hy.
Die uitstalling is gister amptelik by die Kotzé Kunsgalery geopen en dit duur tot Saterdag. Besoek die galery by Dan Pienaarrylaan 44 of kontak 051 436 3915 vir meer inligting.
Justine Fortuin