Kos en gees by Food Truck-fees

0
329

As jy nog nie planne het vir die naweek nie, moet jy beslis by Bloemfontein se eerste Food Truck Fest, wat by Villa Avianto aangebied word, ‘n draai maak.

Vermaak deur onder Brendan Peyper en Zak Steyn, besonderse, watertand disse, wynproe of craft bier en hope pret vir die hele gesin is alles dinge wat die fees ‘n moet-bywoon geleentheid maak.

Die fees vind 27 Oktober van 10:00 tot 18:00 plaas. Kaartjies is beskikbaar by www.ticketrush.co.za. Adan Carl Allen, direkteur van Flick it Up Events, vertel dat hy nog altyd ‘n sagte plek vir die Rosestad gehad het en graag iets nuuts aan die mense van dié deel van die land wou bied, van daar die besluit om die fees na Bloemfontein te bring.

“Daar gaan baie beplanning in so ‘n fees in. Dit vat maande se daaglikse take wat jy moet klaarmaak. Ons moes intensiewe navorsing doen om te kyk of so ‘n fees in die gebied sou werk. Daar gaan natuurlik ook baie fondse in om seker te maak veiligheid is reg, om die koste van die venue te dek, seker te maak daar is genoeg badkamers en nog vele ander aspeke,” sê Allen.

Soos deur die organiseerder verwag, is die idee baie positief deur Bloemfonteiners ontvang en sien hulle uit na die fees.

‘n Groot pluspunt vir inwoners van die Rosestad is dat die fees tydelike werk aan inwoners bied en ook ‘n vorm van inkomste vir ander is.

Hoewel dit die eerste keer is dat die fees gehou gaan word, is die organiseerders van plan om dit ‘n instelling te maak.

“Ons sien daarna uit om nog vele Food Truck Fests na die mooi stad van rose te bring.” – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za