Parlementslede het ‘n lys van 14 kandidate genomineer vir die kortlys waaruit Suid-Afrika se nuwe Openbare Beskermer gekies moet word. Mense wat die lys gehaal het is die Adjunk- Openbare Beskermer, Kevin Malunga, die Wes-Kaapse Regter Siraj Desai en die Adjunk- Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Willie Hofmeyer. Die uittredende Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, se termyn verstryk die einde van Oktober. ‘n Spesiale parlementêre komitee het deur meer as 60 CV’s gewerk om die 14 kandidate vir die kortlys te nomineer. Agt vroue het die kortlys gehaal. Onderhoude sal op 11 Augustus met die kandidate op die kortlys gehou word. Elke kandidaat sal ‘n uur kry om te sê waarom hy of sy die pos moet kry. Die komitee sal na die volgende eienskappe soek wanneer hulle die kandidate oorweeg: Karakter, ondervinding, kennis en vaardighede. Die komitee het ook bygevoeg dat hy die kandidate verder sal toets op bestuursvaardighede, hul begrip van ‘n ontwikkelende staat, hul begrip van die drie vlakke van regering en hul verhoudings, finansiële bestuur, leierskapvaardighede en menslikehulpbron-vaardighede. Die 14 kandidate op die kortlys is:
Regter Sharise Weiner; Regter Sirajudien Desai; Kevin Malunga; Nonkosi Cetywayo; Mhlaliseni Mthembu; Madibeng Mokoditwa; Mamiki Goodman; Prof. Narnia Bohler-Muller; Prof. Bongani Majola; Me. Busisiwe Mkhwebane; Me. Jill Oliphant; Me. Muvhango Lukhaimane; Me. Kaajal Ramjathan-Keogh en mnr. Willie Hofmeyer. – André Grobler