Kort en lank van popmusiek

0
313

Daar is baie verskille tussen klassieke musiek en popmusiek. Een hiervan het met tyd te doen. By populêre musiek het 3 minute die norm geword. In die 1950’s en vroeë 1960’s was treff erliedjies selfs heelwat korter.

Elvis se “That’s All Right Mama” was maar 1 minuut 57 sekondes lank, met “Heartbreak Hotel” net oor die 2 minute. Die Beatles se “Love Me Do” van 1963 was 2’22” en “I Want To Hold Your Hand”, 2’24”.

Een van die redes waarom popliedjies aanvanklik so kort was, was die druk wat platemaatskappye toegepas het. Hoe korter die opnames, hoe meer daarvan kon die radiostasies, wat dikwels pens en pootjies in die platemense se sakke was, dié opnames speel. En hoe meer musiek, hoe groter die inkomste uit tantieme. Daar was ’n tyd dat jy kon vergeet het om enigiets langer as 3 minute uitgesaai te kry. (Die legendariese Phil Spector het met The Righteous Brothers se “You’ve Lost That Lovin’ Feeling” so ver gegaan om blatant te lieg oor die tydsduur.

Hy het 3’05” op al die plaatetikette laat druk, pleks van die korrekte tydsduur van 3’45”.) Maar daar is altyd uitsonderings. Een van die eerste sangers wat vir die musiekbedryf middelvinger gewys het, was die akteur, Richard Harris. Hy en liedjieskrywer Jimmy Webb het in Desember 1967 Webb se “MacArthur Park” opgeneem. Dit het hulle min geskeel dat die opname ’n volle 7 minute en 21 sekondes lank was.

Die liedjie het nie net die Nommer 2-posisie op die Amerikaanse Billboard Hot 100 gehaal nie, maar ook ’n Grammy gewen. En nou het Bob Dylan se treff er oor die John F. Kennedymoord pas verskyn. “Murder Most Foul” is amper 17 minute lank. Baanbreker Bob, Nobelpryswenner Bob, steur hom aan g’n platemaatskappy of radiostasie se “reëls” nie. Hy hoef nie. Want hy is Bob Dylan. Hy máák die reëls.

Albé Grobelaar