Korsten & Prins verenig op hul tuisgrond met musiek van Beethoven en Mozart!

0
105
Gérard Korsten

Gérard Korsten keer terug na Bloemfontein om op Saterdag 14 September 2019 die Vrystaatse Simfonieorkes in die Odeion te lei op ʼn musikale reis wat beloof om te bekoor. Die program sluit in een van Beethoven se bekendste werke, die Klavierkonsert no. 5, alombekend as die Keiserkonsert, met Megan-Geoffrey Prins as solis. Mozart se Simfonie No. 41 is die ander deel van die aand se program.

Megan-Geoffrey Prins is ʼn pianis van Riverdale en het reeds sy concerto-debuut op die ouderdom van 11 gemaak. Sedertdien het hy al in verskeie lande opgetree, wat insluit Noord-Amerika, Europa en Hongkong. Prins spog met talle musiektoekennings, waarvan die nuutste een in 2019 aan hom toegeken is as die Standard Bank Jong Kunstenaar in Musiek. Hy is tans besig met sy PhD in Musiek onder leiding van Antonio Pompa-Baldi by die Cleveland Instituut vir Musiek, waar hy ook die Sadie Zellen Klavierprys, die Arthur Loesser Gedenkprys en die Maurice en Judith Kaplow Prys vir Ongewone Kreatiwiteit verower het.

Gérard Korsten is in Pretoria gebore en het sy loopbaan as violis begin. In 1987 sluit Korsten by die Chamber Orkes van Europa aan, as konsertmeester, waarna hy in 1996 sy loopbaan as dirigent van menigte wêreldbekende orkeste voortsit. Sederdien is Korsten hoogs in aanvraag as gasdirigent in verskeie lande, soos Europa, Asië, Australië en Suid-Afrika, waar hy in konsertsale, sowel as operahuise, verskyn. In 2018 word Korsten aangestel as hoof Gasdirigent van die FSSO.

Hierdie twee prominente musici ontmoet op hul tuisgrond vir ʼn aand van onvergeetlike musikale inspirasie!

Toegang: Kaartjiepryse is soos volg by Computicket beskikbaar: Volwassenes – R100; Studente en kinders 3 tot 18 jaar – R40.

Vir navrae, kontak die FSSO by 051-401-2342, of besoek die FSSO se Facebook-bladsy: @ Free State Symphony Orchestra.

info@bloemfonteincourant.co.za