Koornhof-Hecht-duo op BFN-verhoog

0
397

Die Koornhof-Hecht-duo met gevierde SA violis Piet Koornhof en Amerikaanse pianis Thomas Hecht kuier aanstaande maand in die Rosestad as hulle op 7 Mei om 19:30 in die Odeion optree.

Koornhof het al ekstensiewe uitvoerings as solo-uitvoerder, kamermusikus en solis saam met orkeste in Suid-Afrika, Europa, Noord-Amerika, Rusland, Singapoer en Nieu-Seeland gegee. Sy oorsese uitvoerings sluit optredes saam met Amerikaanse pianis Thomas Hecht by die Yong Siew Toh Conservatory of Music (Singapoer) en die Echos Festival (Italië) in.

In 1994 word hy die eerste Suid-Afrikaner wat ‘n uitgebreide toer na Rusland (saam met pianis Vladimir Yurigin-Klevke) onderneem. Hy het sy konsertdebuut op die ouderdom van nege gemaak terwyl hy ‘n leerling van Alan Solomon was. Beurse wat al aan hom toegeken is, sluit onder meer die van die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie, Anglo American Corporation, die Aspen Music School en die Juilliard School (waar hy onder Dorothy DeLay studeer het), in. Hy het ook aan meesterklasse van Itzhak Perlman, Pinchas Zukerman en Segiu Luca deelgeneem.

Hecht is in 2003 na Singapoer genooi as die konservatorium se Founding Head of Piano Studies. Oor die verloop van byna drie dekades het hy internasionaal as solis, solis saam met orkes, kamermusikus asook lid van die bekende duopaar Hecht en Shapiro opgetree. Hecht en Shapiro was wenners van die Munich International Two Piano Competition en die USA National Duo Piano Competition. Hy is voormalige Head of Piano Studies en Artist-In-Residence by die School of Music van Victoria University (Nieu-Seeland). Voorheen was hy ook Professor of Piano en Artist-In-Residence by die Cleveland Institute of Music (VSA). Hy het al uitvoerings saam met leidende orkeste soos die New York Philharmonic, Cleveland Orchestra, Baltimore Symphony, Stuttgart Symphony Orchestra, Johannesburg Festival Orchestra, Singapore Symphony Orchestra, Artsakh Symphony Orchestra en die New Zealand Symphony Orchestra gegee.

Die konsertprogram sluit in Arvo Pärt: Fratres, Giya Kancheli: Time…and again en Balys Dvarionas: Verskeie komposisies, in.
Kaartjies kos R130 (volwassenes), R90 (pensioenarisse), R70 (UV-personeel), R50 (studente en leerlinge) en R50 (groepbesprekings van 10+) by Computicket.