Konstruksiemaatskappy aangestel om draairestaurant op te knap

0
1024

LANI FOUCHÉ

Planne vir opknapwerk aan die ikoniese draairestaurant in Bloemfontein is goed op dreef, en sy deure kan moontlik volgende jaar weer oopmaak.

Woordvoerder vir die Vrystaatse departement van openbare werke, Winkie Direko, sê die tender vir herstel- en opknapwerk aan die draairestaurant bo-op die CR Swart-gebou, is aan Freelance Construction (Pty) Ltd toegeken, en dié projek behoort aan die einde van die huidige boekjaar voltooi te wees.

Daarna sal dit beskikbaar wees vir verhuring aan ‘n restaurantbestuurder. Die restaurant het in die negentigerjare sy deure gesluit en is vir lank daarna deur MTN vir telekommunikasie-doeleindes gehuur.

Direkteur van Freelance Construction, Derek Canavan, sê die planne is nog in ‘n vroeë stadium, en hy kan nie nou al uitwei oor besonderhede van die opknapwerk nie. 

"Ek wag nog vir tekeninge van die argitekte.  Eers dan sal ek kan sê wat ons met die restaurant gaan maak."

Bloemfonteiners het vroeër aan Courant gesê hulle het soete herinneringe aan dié gewilde eetplek.