Konsert ‘gronde’ vir opgewondenheid

0
249
Die kunstenaars van Musiek Soos Grond gaan op 27 April by Villa Avianto optree.

Indien jy die grond aanbid waarop kunstenaars soos Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Len Muller, Leon Gropp, Lizandra Winter en Liani Reynolds loop, durf jy nie die Musiek Soos Grond-konsert op Saterdag 27 April 2019 by Villa Avianto in Bloemfontein misloop nie.
Musiek Soos Grond is ‘n unieke konsep wat onlangs deur dié kunstenaars op die been gebring is en wat bestaan uit onafhanklike kunstenaars wat saamtrek op die verhoog om nie net hul eie verwerkings op te voer nie, maar ook saam musiek te maak en mekaar te begelei.
Maar as jy wonder hoe dit nou eintlik gaan werk, is jou skeptisisme nie heeltemal ongegrond nie. Volgens Alishia van Deventer van Star Burst Promotions, wat Musiek Soos Grond se bemarking hanteer, is dit nogal uitdagend vir sewe kunstenaars om saam te werk en weens beroeps- en persoonlike verpligtinge almal op dieselfde plek en dieselfde tyd te kry,
“Om die stemme te kies wat bymekaar pas, waar byvoorbeeld net twee saam sing, was inderdaad ‘n groot taak. Elke kunstenaar se unieke klank kan egter duidelik herken word.
“Maar om hierdie style te versoen in koorgedeeltes is ‘n ander saak. Almal se konsonante val op verskillende tye. Die talentvolle Gideon Botes wat die groep se eerste enkelsnit, Lugballon, opgeneem en gemeng het, het dit meesterlik gedoen. Die lied se stemme, kitaar, viool en tjello is in een dag opgeneem, en die eindresultaat is asemrowend!” sê Van Deventer.
Musiek Soos Grond is die heel eerste musiekkonsert in sy soort in die land en gaan sorg vir ‘n musiekervaring wat jy beslis nie wil misloop nie. Die konserte is daarop gemik om vir kontemporêre kunstenaars ‘n platform te gee om hul lirieke, lewensverhale en veelsydigheid op die verhoog met gehore te deel.
Kaartjies vir die konsert is beskikbaar by www.musieksoosgrond.co.za en wissel tussen R200 en R250 per persoon.
Deure open om 17:00 en sluit weer om 22:00. Gaste is welkom om piekniekkomberse, kampstoele of kussings te bring om op te sit terwyl hulle saam kuier. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za