Kongokoors-vrese gesus

0
6801

Lani Fouché

Met twee gevalle van die lewensgevaarlike Kongokoors wat sedert die begin van die jaar by ’n Bloemfonteinse hospitaal bevestig is, het oproepe na dokters en hospitale ingestroom met vrese oor die verspreiding van hierdie virus.
Tommy Marx word tans in afsondering in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein verpleeg. Hy is in ’n kritieke toestand nadat die virus verlede Donderdag by hom gediagnoseer is. Hy het dit in Pomfret opgedoen toe hy deur ’n bontpootbosluis gebyt is. Voor hom was Johannes Ngwato, ’n werknemer by die Kalkfonteindam Natuurreservaat naby Fauresmith, met dié virus gediagnoseer en in dieselfde hospitaal behandel. Hy is intussen ontslaan.
Dr. Chris van Rensburg, Direkteur van Mikrobiologie en Virologie by Van Rensburg Patoloë, sê boere bel hom van regoor die land met vrese dat dié virus nou in die omloop is. “Daar kan nie ’n uitbraak wees nie, dit is heel toevallig dat twee mense in só ’n kort tyd by dieselfde hospitaal daarvoor behandel is. Die virus is eintlik baie skaars,” sê van Rensburg.
Hy het mense gerus gestel, maar tog gemaan om op hul hoede te wees wanneer hulle in velde of op plase beweeg. “Die virus word deur ’n harde dop, bontpootbosluis gedra en versprei. Dit kom meestal in die land se endemiese gebiede voor – die Vrystaat, Noordwes, Noord-Kaap en Karoo. Mense in stede is nie werklik hieraan blootgestel nie, maar wel in plattelandse gebiede.” Van Rensburg vertel as só ’n virusdraende bosluis jou byt, jy die Kongokoors-siekte kan opdoen. Almal word egter nie ewe siek daarvan nie. “Party mense het ’n natuurlike teenliggaam in hul bloed, wat beteken hulle kry net erge griepsimptome. Nie almal eindig in die hospitaal op nie.” Ander diere, soos voëls, bokke, beeste, skape en hase kan ook die virus opdoen, maar hulle toon geen simptome nie. Wanneer ’n virusdraende dier geslag word, kan die virus ook net vir ’n klein rukkie leef. “Boere en slagters moet egter versigtig wees om nie met die bloed van ’n geïnfekteerde dier in aanraking te kom nie – só kan jy dit optel. Neem maar net altyd voorsorgmaatreëls.”
’n Mens wat met die virus besmet is, kan deur middel van uitruiling van liggaamsvloeistowwe iemand anders aansteek. “Onthou, die twee mense wat nou in Bloemfontein behandel is, het dit ver van mekaar af opgedoen – dit kom nie eers uit dieselfde streek nie,” meen Van Rensburg.
Hy het mense in veral plattelandse gebiede in die binneland gemaan om bosluis-afwerende stowwe te spuit wanneer hulle in die veld is, en om nooit ’n bosluis dood te druk wanneer jy hom op jou lyf gewaar nie. “Die gevaarlike stowwe wat die virus dra kan in jou vel ingedruk word as jy dit doen. Moet dit ook nie met jou duim en wysvinger probeer verwyder nie – so kan jy ook die virus in jou liggaam inspuit. Knip dit liewer met ’n skertjie af, of brand dit.”
Die virus is baie skaars. Van Rensburg sê volgens die Neurologie-instituut se statistieke is daar slegs 187 Kongokoors-virus gevalle in die afgelope 40 jaar in Suid-Afrika aangemeld. Slegs sowat 5% van alle bosluise is in staat om die virus te dra.