Komitee om taxi-griewe aan te spreek

0
Komitee om taxi-griewe aan te spreek

MARINÉ JACOBS

’n Paaie-komitee, wat eens in die Vrystaat operasioneel was, sal weer herleef om die griewe van taxibestuurders in die provinsie aan te spreek. Só sê die woordvoerder van die departement van paaie, polisie en vervoer, Zolile Walaza. Dit kom nadat taxibestuurders verlede maand voor die departement betoog het en paaie blokkeer het, omdat hulle ontevrede was oor spesifieke roetes wat aan taxis geallokeer is. Taxibestuurders het beweer amptenare binne die departement besit minibustaxis in die stad en wil seker maak dat die mees winsgewende roetes aan hierdie taxis toegeken word.

Volgens Walaza het ’n vergadering tussen die departement en verteenwoordigers van die Groter Bloemfontein-taxivereniging verlede week plaasgevind, waar oplossings bespreek is. “Ons het saamgestem dat voor enige addisionele taxi-bestuurders by die sisteem gevoeg kan word, moet die mense wat die roetes bepaal eers met die Groter Bloemfontein-taxivereniging in verbinding tree.”

Walaza het bewerings dat onwettige permitte aan sekere taxibestuurders uitgereik is, ontken en gesê hulle nooi enige iemand met sodanige inligting om dit aan die departement te verskaf. “Die departement het al die voertuie geverifieer, so volgens die departement is daar geen onwettige permitte uitgereik nie. Ons het tot dusver ook geen bewyse van sulke aksies ontvang nie.”
Walaza het ook bevestig dat die vyf taxis waarop daar in November beslag gelê is, weer aan die eienaars oorhandig is. Hy het weereens namens die departement ’n beroep op taxibestuurders gedoen om hul griewe met die departement se amptenare of hul betrokke taxivereniging te bespreek, eerder as om tot betogings of onwettige optrede oor te gaan.

No posts to display