Kom voel weer kind tussen 55 speletjies

0
1019
Die mense wat die bordspeletjieaand bywoon, geniet dit terdeë.

‘n Gewilde koffiewinkel op die perseel van Mizpah Lodge gee elke Donderdag aan mense die geleentheid om weer kind te voel.
Wikus Botha, eienaar van CoffeeTalks Café, het op 18 Mei 2017 besluit om Bloemfonteiners op ‘n ander manier te vermaak met die bekendstelling van ‘n bordspeletjieaand aan die inwoners van die Rosestad.
“Die idee van ‘n Board Game Café het sy oorsprong in Kanada. Ek het tans 55 verskillende bordspeletjies, kaarte en skaak uitgesluit. In totaal het ek meer as 60 speletjies vir mense om van te kies,” vertel Botha.
Dit sluit onder meer die algemene speletjies in wat almal ken, soos 30 Seconds, Scrabble, Cluedo, Monopoly, ens. “’n Groot gedeelte van die speletjies is nie algemene designer boardgames soos dit genoem word nie, en sluit onder meer Ticket to Ride, Settlers of Catan en Pandemic in,” sê hy.
Die speletjies wat Botha beskikbaar stel aan besoekers aan sy koffiewinkel is van die hoogste gehalte en elke bordspeletjie het al ‘n toekenning gewen in die bordspeletjiebedryf.

Die verskeie speletjies wat Wikus by CoffeeTalks Cafe aanhou.

Die doel van die speletjies wat hy aankoop is om gesprekke uit te lok of om spelers te kry om saam te werk. Meeste van die bordspeletjies sorg vir seer maagspiere, want mense lag al te lekker tydens die speel van sommige van die speletjies. “Dan het ek natuurlik ook meer strategiese speletjies soos Cashflow, wat gebaseer is op die boek Rich Dad Poor Dad asook Forbidden Desert en Pandemic, waar jy as ‘n span moet saamwerk om die spel te wen. Daar is ook ‘n speletjie, Ice Cool, wat die prys vir beste kindersbordpel van 2017 gewen het, wat groot pret vir die hele gesin is.”
Volgens Botha geniet die mense hulle terdeë en dit gebeur min dat jy mense só hard hoor lag. “Hier het ook al lekker gesprekke begin wat sonder die spel nie andersinds sou gebeur het nie. Die atmosfeer, veral in die winter met die kaggelvure, sop en brood en warm sjokolade op ons koolstoof is regtig lekker en knus,” spog Botha.
“Dit is baie gesellig en almal lag lekker saam. Dit het al gebeur dat vreemdelinge saam om tafel begin sit en saamspeel, presies die idee wat ek wil skep,” verduidelik hy.
Die mense wat kom speel wissel van veral studente na gesinne waar ouma en oupa, ma, pa en al die kinders om die tafel sit.
Die bordspeletjieaand vind elke Donderdag om 18:30 by CoffeeTalks Café plaas. Lekker kos en drinkgoed is beskikbaar.

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za