Kom verf saam aan groot muurskildery

0
613
Die kunstenaar wat aan die hoof van die verfprojek staan, Liesel Wessels.

Liesel Wessels, ‘n kunstenaar van Bloemfontein, het besluit om die eerste groot gemeenskapsmuurskilderyprojek in die stad van stapel te stuur. Die projek behels die verf van ’n muurskildery, wat bestaan uit kolletjies of spatsels, op die muur van die onderbrug in Montgomerystraat, onder Benadérylaan, en almal word uitgenooi om deel te wees daarvan.

Volgens Wessels gaan dit daaroor om lewe en positiwiteit oor Bloemfontein te spreek. Daarom simboliseer elke merk wat die kunstenaars maak ‘n droom, hoop, of positiewe gedagte of idee oor die stad.

“Ons ry gereeld fiets en ry verby hierdie spesifieke onderbrug, en ek het dit altyd hartseer gevind dat dit nie tot sy volle potensiaal benut word nie. Dit is die perfekte plek vir fotosessies aangesien dit nie so besig is soos baie van die ander onderbruê in die stad nie.”

Wessels glo dat die onderbrug ook ‘n toerismetrekpleister kan word. “Tweedens, deur ‘n gebied aantrekliker te maak, sal dit hopelik die huidige onwettige storting van vullis en kriminele aktiwiteite verminder.”

As jy graag wil deelneem bring jou eie kunsbenodigdhede, soos enige ondeursigtige watergebaseerde verf en kwaste of stensils. Verf soos krytverf, akriel, handwerk of muurverf sal ideaal wees. “Verf ’n spatsel of kolletjie – soveel as wat jy wil – in pastelkleure of helder kleure. Geen donker of dowwe kleure nie. Enigiemand is welkom en geen kunsondervinding is nodig nie. Die gemeenskap kan ook betrokke raak deur verf en ander toerusting te borg,” sê Wessels.

Die projek sal Saterdag 30 April vanaf 09:00 plaasvind (indien die weer dit toelaat). Kontak Liesel Wessels op WhatsApp 083 400 2864 vir meer inligting.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za