Kom ontmoet Sneeuwitjie en die 7 tsotsi’s

0
1678
Xander Steyn FOTO: Xander Art Productions

Bloemfontein kan gereedstaan om eersdaags vir Sneeuwitjie in die produksie Snow White and the Seven Tsotsis te ontmoet.
Xander Steyn van Xander Art Production bied hierdie vertoning aan en beloof dat dit skreeusnaaks maar tog iets moois gaan wees.
Hy verduidelik dat hy letterlik eendag net gesit en dink het aan iets snaaks, toe Snow White and the Seven Tsotsis by hom opgekom het. “Ek wou ‘n ou bekende sprokiesverhaal ‘n nuwe local geur gee! Natuurlik, toe ek begin skryf aan die produksie, het dit net eenvoudig ontwikkel. Hoe meer ek geskryf het, hoe meer snaaksighede het uitgekom,” vertel hy.
Steyn bied twee keer per jaar ‘n lekker produksie aan, wat drama en dans insluit. Enigiemand is welkom om deel te wees van sy groep. “Ek het drie laerskoolgroepe, ‘n hoërskoolgroep en ‘n volwasse groep. Die volwasse groep maak dan die hoofvertoning uit. Ons bied my studenteproduksies op 18 November deur die dag aan,” sê Steyn.
Die mense in sy volwasse groep is doodgewone mense. Daar’s ‘n loodgieter, onderwyseres, grafiese ontwerper, dokter, ouditeur, fotograaf, studente, ens., in die groep.
“My missie met Xander Art Productions is om vir die gewone mens daarbuite wat ook daarvan hou om ‘op die verhoog’ wees, ‘n kans te gee om dit te kan uitleef! Wat so lekker is van hierdie groep, is dat almal vriende word. Ek het ook getroude pare in die groep en hulle noem my klasse ‘terapie vir hulle verhouding’,” skerts Steyn.
Hy sou hierdie vertoning opsom as kleurvol, snaaks en sommer net lekker! “Daar is skreeusnaakse oomblikke, dan is daar hoendervleis-mooi sangmomente. Daar is skouspelagtige groepdansnommers en daar mag ook ‘n skrik-oomblik of twee wees.”
“Ek dink Bloemfontein en omgewing moet hierdie produksie beleef! My missie is ook om kultuur en teater-toe-gaan ‘n ‘ding’ te maak in gesinne. Dis hoekom ek hierdie teater-styl gebruik. Amper soos ‘n pantomime waar daar iets vir die hele gesin is,” verduidelik hy.
Steyn glo kinders gaan mal wees oor die tsotsi’s en ook die mooi rok van die koningin. Die ma’s gaan gek wees oor die musiek en mooi beligting-oomblikke en natuurlik sal die pa’s lekker lag vir al die plaaslike grappies en dubbelsinnighede.”
Die hoofproduksie is Saterdag 18 November 19:30 by Kopanong (Kovsiekerk). Kaartjies is slegs R100 en beskikbaar by Computicket. Die studenteproduksies word aangebied deur die loop van die dag, Junior 1 om 9:30, Junior 2 om 12:00, Junior 3 om 14:30 en die Seniors (Hoërskool) om 17:00. Al vier die studentevertonings kan bygewoon word teen R70 per kaartjie.

Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za