Kom maak vanaand jou hand en hart oop vir behoeftiges

0
1090

Die winter is op ons en meeste van ons is geseënd om elke dag warm aan te trek en in die aand in ‘n warm bed te klim, maar ons vergeet soms dat daar baie ander mense is wat nie so bevoorreg is nie.

Die Kombers Projek, in samewerking met Vrystaat Versorging in Aksie, Rosestad, PEP, Eerste Geluk Motors, JAG Motors, Securiforce en die Evangelie Gereformeerde Kerk, fokus daarop om vir mense wat minderbevoorreg is ten minste ‘n warm kombers vir die winter te bied.

Bloemfonteiners word gevra om vandag tussen 18:00 en middernag ‘n kombers te skenk by Real Beds, op die hoek van Kelnerstraat en Generaal Dan Pienaarrylaan, in ruil vir ‘n worsbroodjie. As jy nie ‘n ekstra kombers het nie, sal komberse daar te koop wees.

Die projek is elke jaar ‘n groot sukses en verlede jaar is 2 264 komberse ingesamel.

Kom smul dus aan ‘n worsbroodjie en bibber saam ten bate van mense wat hierdie winter koud gaan slaap.

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za