Kom hardloop vir Kyra

0
1632
Kyra Bruger wat in November in Amerika moet wees.

Kyra Burger (3) en haar familie doen ‘n beroep op alle entoesiastiese hardlopers van Bloemfonteinse om die AfriForum/Kansa TLC-wedloop vir Kyra te kom hardloop, draf, stap of kruip op die oggend van 14 November.

Alle fondse gaan vir Kyra se DFMO-behandeling (spesifiek vir neuroblastoma-lyers) wat sy in Amerika moet kry. Die vegtertjie moet op 2 November 2020 oorsee wees. Dit is ‘n twee jaar behandeling wat gaan help dat Kyra nie terugval nie. “In die twee jaar wat sy gaan vir die behandeling gaan ons baie fondsinsamelings moet hou sodat die behandeling kan voortgaan,” sê ma Mandi Venter.

Volgens Venter moet hulle al op 31 Oktober vlieg, maar voor dan gaan Kyra eers vir nog ‘n paar bloedtoetse in Bloemfontein.

Venter het aan Bloemfontein Courant gesê dat dit tans baie goed gaan met Kyra en dat die Here regtig goed is vir hulle. Sy vertel dat Kyra ‘n regte klein dogtertjie is en dat dit haar hart so bly maak om te sien hoe goed sy doen. Venter sê dat sy uitsien na die dag wanneer haar kind kan skooltjie toe kan gaan en met maatjies speel wanneer die behandeling na twee jaar voltooi is.

“Al gaan dit dan vir my ‘n groot aanpassing wees, verdien sy dit om kind te wees. Ek kan nie wag om haar gesiggie te sien as sy eendag vir haar eerste dag skooltjie toe kan gaan nie.”

Venter vertel dat hulle gedra word deur die mense van Bloemfontein. “Aan diegene wat reeds donasies gemaak het, wil ons uit die diepte van ons hart sê, baie dankie, Kyra se behandeling sou nie moontlik gewees het sonder hulle nie. Ons waardeer dit regtig. Mense se gebede dra ons baie.”

Die wedloop vindplaas by die Hoërskool Fichardtpark. Mense kan tussen 07:00 en 08:00 aanmeld en betalings doen. Vir meer besonderhede kan Mandi gekontak word by 064-680-9544.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za