Kom groet Margo by Heidedal-kultuurmark

0
2207

Heidedal se eie Margo Fargo, wat Sondag in Pretoria teen 11 ander skoonhede om die Mej. Suid-Afrika-kroon meegeding het, gaan Saterdagaand ‘n spesiale besoek bring aan die Heidedal Cultural Market om dankie te sê aan almal wat haar tydens die kompetisie ondersteun het.
Die kultuurmark word op Saterdag 2 Junie van 17:00 tot 23:00 by Daisy’s Pot Coffee Shop in die Lee-Marco-sentrum in Heidedal gehou. Toegang is R10 per volwassene en R5 vir kinders.
Mense wat die kultuurmark bywoon, kan dus skouers skuur met hierdie beeldskone Heidedaller wat die gehoor en beoordelaars gaande gehad het tydens die Mej. Suid-Afrika-kompetisie, wat Sondag direk op M-Net uitgesaai is.
‘n Groot groep van Margo se ondersteuners het Sondag by die jazzklub Moods & Flavours in Heidedal bymekaar gekom om haar te ondersteun en na die direkte uitsending van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie te kyk.
Tydens haar besoek aan die Heidedal Cultural Market, gaan Margo onder meer praat oor haar evaringe by die Mej. Suid-Afrika-kompetisie en ook poskaarte met foto’s van haar onderteken om aan haar ondersteuners uit te deel.
“Ek sien baie daarna uit om Saterdag by die Heidedal Cultural Market tyd deur te bring met my gemeenskap, wat my trots is,” het Margo aan Bloemfontein Courant Voice gesê.
Benewens die talle stalletjies met handgemaakte produkte en lekker winterkos wat daar by die kultuurmark beskikbaar gaan wees, kan mense ook uitsien na optredes deur die gewilde Heidedalse sanger, Wenuf Ontong, beter bekend as The President of Live Music, en die jeuggroep, C2C.
info@bloemfonteincourant.co.za