Kom deel in ouwêreldse sjarme by Ramblers

0
569
Die glanskonsert-konsep is’n wenresep wat Arco Musica reeds op die proef gestel het met hul reeks Bling en Black Tie-konserte in 2016 - nadat Ramblers Club gerestoureer is tot sy eertydse glorie.

Arco Musica het in 2016 begin met ‘n unieke konsert-konsep, getiteld Bling & Black Tie. Vanjaar vat die groep dit egter ‘n stappie verder deur konsertgangers ‘n deftige driegangmaaltyd te bied asook volop geleentheid om die dansvloer te betree!

Die Bling & Black Tie Ball, wat op 16 Februarie 2019 om 19:00 in Ramblers Club se balsaal gehou word, beloof om ‘n unieke ervaring te wees. Arco Musica sê in ‘n verklaring die historiese gebou met sy mooi houtvloere, asemrowende kandelare en ouwêreldse sjarme en styl is juis in 1896 vir die dié doel gebou.

“Die goue draad wat Arco-konserte altyd belyn, is om ‘n stylvolle tema te kies en dan te verweef met hul keuse van musiek en choreografie.
“Spesiale dansnommers sal uitgevoer word sodat oud én jonk lekker kan saamdans, maar die wat net die konsert wil kom geniet, lekker wil kom eet en mooi aantrek, is meer as welkom,” sê Arco Musica in die verklaring.

Nommers soos Grande Amore, The Blue Danube en Copa Cobana is byvoorbeeld gekies om die stylvolheid van die aand vas te vang. Soos altyd, fokus Arco op ‘n groot verskeidenheid genres, van Italiaans tot Afrikaans en alles tussenin! Wie het nou gedink nommers soos Il Mondo, Your man, You are the reason, Simply the best, Burn out, Despacito en Swart Koffie en kan in een asem genoem word?

Die gehalte van die musiek en keuse van kunstenaars is soos altyd van die beste uit die sentrale binneland. Gereelde Arco-sangers, Cézanne Yzelle, Arend Brink Jr asook Mario Lategan, gaan saam met die tienstuks-Arco-orkes optree. Lategan gaan ook as seremoniemeester vir die aand optree om seker te maak dat alles seepglad verloop en dat almal wat nog nie ‘n Arco-vertoning beleef het nie, tuis voel.

Die kaartjies word as onbespreekte enkelsitplekkaartjies by Computicket te koop aangebied. Die kaartjieprys van R350 sluit ‘n driegangmaaltyd in.
Indien groter groepe saam om dieselfde tafel wil aansit, kan hulle gerus vir Arco Musica by 083-259-2226 kontak.

Kom trakteer jouself, trek deftig aan en beleef ‘n aand van mooi musiek en dans, swier en glans!

info@bloemfonteincourant.co.za