Blokkiesraaimense orals oor die wêreld is ‘n interessante spesie. Hulle is puntenerige mense. Die Britte en die Amerikaners kom ‘n langer pad hiermee as ons. In die VSA is blokkiesraaisels so belangrik dat groter koerante selfs ‘n heeltydse pos vir ‘n blokkiesraairedakteur het.
Will Shortz is sedert 1993 die raaiselredakteur van die New York Times, en in blokraaikringe is hy ‘n legende. Dit was by hom dat ons spannetjie Afrikaanse opstellers van die blokraaimaatskappy, XWord, die idee van ‘n toernooi gekry het. Ons was geïnspireer deur die rolprent, Wordplay, wat Will Shortz se aanbieding van die jaarlikse “American Crossword Puzzle Tournament” uitbeeld.
Verlede jaar het ons toe die heel eerste keer in Suid-Afrika ‘n formele Afrikaanse blokraaitoernooi aangebied op die Vrystaat Kunstefees. En wat ‘n heerlike pretprojek was dit nie. Vanjaar maak ons weer so, danksy die geesdriftige ondersteuning van die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Vrystaatse Universiteit.
Dit werk heel eenvoudig. Deelnemers sit by tafels in ‘n lesinglokaal en die blokkiesraaisels word onderstebo (soos ‘n vraestel) uitgedeel. Elke raaisel het ‘n tydsbeperking. Op ‘n gegewe oomblik, wanneer die stophorlosie begin hardloop, draai die deelnemers gelyktydig hul raaisels om en laat waai.
Wanneer die tyd verstreke is (byvoorbeeld ná tien minute vir ‘n maklike raaisel), moet almal inhandig en begin die nasienwerk. Punte word toegeken vir elke korrekte antwoord, terwyl meer punte afgetrek word vir foutiewe antwoorde. Daar is ook ekstra punte vir deelnemers wat voor die tyd klaarmaak.
Dit is groot pret om ervare blokkiesraaimense, wat gewoond daaraan is om rustig en alleen tuis hul woord-stokperdjie te beoefen, te sien sweet as hulle teen die stophorlosie meeding. En dis nie so maklik as jy geen hulpmiddels mag saambring nie. Google en die woordeboeke bly tuis.
Lus om deel te neem? Jy kan niks verloor nie. Die RSG Blokraaitoernooi word op 21 en 22 Julie tydens die Vrystaat Kunstefees op die kampus van die Vrystaatse Universiteit aangebied.
Daar’s ‘n swetterjoel pryse te wen. Dalk, wie weet, net dalk, ontdek jy talente waarvan jy nie geweet het nie. . . – Albé Grobbelaar
Date: