Kolskoot – 9 October 2013

0
468

Goeiedag
“Manne, ek weet julle wil All Blacks en Springbokke praat, maar ek het eers iets op die hart,” val Stywelip Carrington met die deur in die huis.
“Die Britte het ons weer gewys hoe dit gedoen word. Instede daarvan dat ons sportadministrateurs hulle toespits op wat belangrik in sport is, vermors hulle geld op ’n groot skaal en praat ek nie eens van die politieke inmenging van kwotas in sport nie. Die Britse koningin het nou ’n Orde van die Britte aan ons eie Natalie du Toit vir haar ongelooflik bydrae as paralimpiese swemmer toegeken. Hulle het ons jou wraggies voorgespring, want ons mense hou hulle met die verkeerde dinge op.”
“Hoor, hoor!” laat die ander manne uit alle windrigtings van hulle hoor.
“Stywelip, ek stem saam, maar ek het Saterdag een van die beste toetse van my lewe op Ellispark beleef. Dit was ware toetsrugby. Ek weet dit was uiters teleurstellend omdat die Bokke 38-27 verloor het, maar wees eerlik, hulle was eenvoudig beter as ons” gesels Botterbul Bester opgewonde.
“Ons verdediging was power. Bryan Habana se besering het ons ontwrig en daarby is van ons spelers nie van top-gehalte nie. Hier praat ek veral van Juandré Kruger as slot. Ons moet ook sterker plaasvervangers op die bank kry,” lug Bontie Bonthuys sy mening.
“Vir my was die grootste blaps deur ons afrigtingspan begaan toe hulle die plaasvervanger-voorry opgestuur het met ’n skrum op die All Blacks se doellyn. Tot in daardie stadium het ons die All Blacks opgekeil in die skrums. Dit was ’n flater,” verduidelik Sporie Bezuidenhout.
Oom Sjert som dit anders op. “Ek weet die Bokke se spel toon ’n opwaartse kurwe, maar as ons dink ons gaan noodwendig oor twee jaar met die volgende Wêreldbekertoernooi met ons talle jong spelers beter as die All Blacks wees, maak ons ’n groot fout.
“Die All Blacks gaan nie maklik as kampioen ter wêreld onttroon word nie. Dit wemel van talentvolle jong spelers in Nieu-Seeland. Kyk na daardie jong losskakel Beauden Barrett. Die mannetjie gaan ons nog baie probleme vorentoe besorg. Ons sal fikser moet word en meer konsekwent moet speel.”
“Vergeet dit. Ons het verloor, uit en gedaan. Ek kry nou al lekker as ek dink aan die oorblywende Curriebeker-wedstryde. Met die Bokke weer beskikbaar, kan daar nog ’n verrassing of twee wees,” voorspel Bontie.
Groetnis