Goeiedag
“My hygend! Dink julle werklik die oproep van Fourie du Preez as Springbok-skrumskakel is die regte een deur Heyneke Meyer? Ek weet op sy beste was hy een van die bestes ter wêreld, maar dit was ’n hele paar seisoene gelede. Ruan Pienaar en Jano Vermaak is ook daar, maar wat van Piet van Zyl? Is hy skielik nie goed genoeg nie?” begin Bontie Bonthuys ons indaba. “Manne, moenie begin stry nie. Ons sal nooit tot ’n vergelyk oor ’n Bokspan kom nie. Ek is net bly Duane Vermeulen is terug,” laat Sporie Bezuidenhout van hom hoor.
“Geluk aan die Leeus. Hulle is terug in Superrugby, hoewel dit maar hittete was. Die vraag wat ek wil vra, is of dit ooit vir die Suid-Afrikaanse Rugbyraad nodig was om die skuif te maak om die Kings bo die Leeus aan die Superrugby-reeks te laat deelneem?” verander Botterbul Bester die rigting van die gesprek.
“Ek stem saam. Dit was nie ’n deurdagte skuif nie en al wat gebeur het, is dat spelers van ander unies en franchises (gebruiksregte) speelkans in Superrugby gekry het én daar was ook meer as net ’n politieke geurtjie aan die hele besigheid. Baie van huursoldaatspelers skuif, noudat die Kings uit is, doodeenvoudig terug na ander unies,” sê Stywelip Carrington.
“Dit is egter ook ’n feit dat die Oos-Kaap se rugbygeesdriftiges honger is vir groot rugby. Die Kings het baie toeskouers na die Nelson Mandelabaai-stadion gelok,” verdedig Sporie.
“Dis waar. Dit is egter ook ’n feit soos ’n koei dat ons nie genoeg top-spelers vir meer as vier franchises het nie. Daarby is ons in die era van beroepsrugby. Spelers verdien hul salarisse met rugby en daarom skuif hulle sonder probleme van die een streek na die ander. Dit is net ons ouens wat baie lojaal en selfs eenogig is oor ons eie spanne, wat dit nie wil aanvaar nie,” verduidelik oom Sjert.
“Kêrels, die Chiefs is die 2013-Superrugbykampioene en dit was so byna of Jake White en sy Brumbies het hulle daar in Hamilton geklop. Ons Bokke moet lig loop vir die All Blacks en Wallabies in die Rugbykampioenskappe,” waarsku Botterbul.
“Vergeet eers nou die Rugbykampioenskappe. Die Curriebeker se Premierliga begin en met die Bokke weg, gaan ’n span soos die Goue Leeus die ander spanne weer karnuffel,”sê Stywelip, en toe gons dit soos die manne begin stry.
Groetnis
Date: