E Copy

Date:

Kolskoot

Goeiedag

“Die rugbytoetse tussen die Springbokke en Iere is op hande. Allister Coetzee sal moet raakvat, anders kan dit lol. Dit het deur my kop geflits toe die Chiefs en Hurricanes mekaar gepak het. Ek het die All Blacks se moontlike losskakels in Dan Carter se plek, Beauden Barrett en Aaron Cruden, teen mekaar opgeweeg. Barrett het die stryd gewen, maar die All Blacks het ook ander losskakel-kandidate. Wat het die Bokke? Onthou, Pat Lambie herstel nog van sy skouerbesering en Handré Pollard van ‘n kniebesering,” begin Sporie Bezuidenhout ons indaba benoud.

“Kalm, Sporie. In Elton Jantjies en Faf de Klerk van die Leeus het ons ‘n skakelpaar wat hul man teen die bestes kan staan. Hoewel, die jong Jean-Luc du Plessis het ook uithalerspel op losskakel vir die Stormers in hul sege van 40-22 oor die Reds gelewer. Coetzee kan natuurlik ook aan die oorsese losskakels, Morné Steyn (Stade Francais), Johan Goosen (Racing 92) en Peter Grant (Western Force) dink,” probeer Bontie Bonthuys troos.

“Ek stem vir Jantjies en De Klerk, maar ons moet ons nuwe Bok-breier kans gee om sy kaarte te speel. Ek is meer bekommerd oor die eienaardige besluit van Saru. Daar is net een keurder, Peter Jooste. Maak dit sin? Dit maak sake baie moeilik vir Coetzee. Wat is aan die gang met Rassie Erasmus? Is hy nou klaar as Saru se rugbybestuurder? Gaan hy Coetzee bystaan met die kies en voorbereiding van die Bokke, of is sy tasse gepak om sy loopbaan as rugbykenner in Ierland voort te sit? Dit en die feit dat Saru geen daadwerklike plan het om ons top-spelers in die land te hou nie, gee my grys hare. Ons moet by Nieu-Seeland uitvind hoe top-spelers soos Richie McCaw en Carter so lank in die land gehou is,” gesels Stywelip Carrington saam.

“Julle vergeet Superrugby se hoofafrigters Nollis Marais (Bulle), Johan Ackermann (Leeus), Robbie Fleck (Stormers), Deon Davids (Kings), Franco Smith (Cheetahs) en Gary Gold (Haaie) gaan die Bok-breier ook bystaan in die kies van die Bok-span. Dit sal verseker dat Coetzee nie soos Heyneke Meyer weer ‘n blou Bokspan kies nie en julle in my ore neul nie,” kap Botterbul Bester terug.

“Ons kan die Bokke net ondersteun. Basta met die res! Die Cheetahs maak my moedeloos. Hulle ransel die Sunwolves 92-14 af, net om dan teen die Rebels in 36-14 te verloor in ‘n wedstryd vol foute, swak hantering en verdediging, en Saterdag pak hulle die Reds in Brisbane. Ek is benoud, want die Haaie speel môre teen die Chiefs en die Leeus pak die Hurricanes, terwyl die Stormers en Kings Saterdag onderskeidelik teen die Waratahs en Jaguares speel. Dit gaan ‘n groot toets wees,” lug Oom Sjert sy mening.

“Brandon Stone het gesamentlik tweede en Branden Grace gesamentlik negende in onderskeidelik die Shenzhen- en Texas Ope gholftoernooi geëindig, om nie te praat nie van Suid-Afrika se voorste vroue gholfspeler, Lee-Anne Pace, wat tweede in die Swirling Skirts-gholftoernooi in Amerika geëindig het. Daarby het Brad Binder die Moto3-Grand Prix in Spanje gewen. Hy is die eerste Suid-Afrikaner om dit te doen sedert Jon Ekerold dit in 1981 vermag het,” verander Sporie die onderwerp.

Almal praat gelyk en ons roep halt.

Groetnis

Share post:

Popular

More like this
Related

Free State Premier to deliver annual address at Traditional and Khoi-San Leaders’ House Opening

Free State Premier MaQueen Letsoha-Mathae is set to deliver...

Wanneer ’n Groot Boom Val! – ’n Roerende huldeblyk aan onderwysers

Die invloed van onderwysers op die lewens van hul...

William Hlakoane to receive Honorary Doctorate from CUT

The Central University of Technology, Free State (CUT) will...

Department of Home Affairs unveils major upgrade

The Department of Home Affairs has announced a significant...