Kolskoot 6 March 2012

0
549

Goeiedag
“Daar is ’n wanbalans in Suid-Afrikaanse rugby. Van klub- tot Superrugby-vlak,” begin Stywelip Carrington ons weeklikse indaba. Sy stelling ontlok aanvanklik geen reaksie nie, maar toe vra Storie Bezuidenhout: “Wat bedoel jy?”

“Kyk, ek is bly die Sharks het die Stormers geklop. Dit was hard en taai soos van ’n Suid-Afrikaanse derby verwag word. Wat my pla, is die gebrek aan ondernemingsgees deur die spanne. Daar is nie flair of vernuwing nie. Ons is behep met kragrugby, verdediging en skopwerk, terwyl ons hoop individuele spelers kan die vonk en opwinding verskaf. “In Nieu-Seeland en selfs Australië is daar baie meer flair – spanpogings waarin hardlooprugby, ondernemende spel en verdediging ’n integrale deel van die spelpatroon vorm. Natuurlik is skopwerk en goeie voorspelerspel belangrik, maar daar is 15 spelers in ’n span en vleuels moet nie staan en koud kry nie,” verduidelik hy.

“Ek moet saam stem,” sê Bontie Bonthuys uit die Kaap. “Ook op klubvlak is daar ’n kommerwekkende wanbalans. Die groter en ryker universiteite en klubs met begrotings van miljoene, slaan soos die ryk unies/streke die kitaar. “Het Peter de Villiers nie gewaarsku die kleiner universiteit suig aan die agterste speen nie?” “In die Gemeenskapsbeker-reeks vir die oop klubs ding klubs met begrotings van miljoene teen amateur-klubs met ’n begroting van ’n paar honderdduisend rand of minder mee. Die weghol-seges wat die klubs met beroepsafrigters en betaalde provinsiale spelers behaal, kan nie gesond vir klubrugby wees nie,” sê Sporie.

Botterbul Bester verstom ons toe hy sê: “Die Bulls was swak teen die Force. Ons het nou wel gewen, maar kort voor die einde met die telling nog 19-19 op ons tuisveld, teen waarskynlik die swakste span in die Superrugby-reeks. Ons maak darem te veel van patroonrugby en daardie alewige dryfmaal-bewegings en skoppe gebruik. Dis wenrugby, maar kan die agterlyn nie meer ingespan word nie?”

“Dit is die Suid-Afrikaanse Rugbyunie wat moet ingryp. Die top-spelers moet eweredig tussen die streke/universiteite en klubs verdeel word. Dit is die enigste oplossing,” sê Oom Sjert.
Dit sit al die manne weer aan die dink.
Groetnis