Goeiedag Goues, silwer- en bronsmedaljes rol in en Suid-Afrika se sportmanne en -vroue is besig om die land se naam hoog te hou op die 2012 Paralimpiese Spele in Londen. “Dis heerlik om hulle op die kassie dop te hou. In die swembad, op die atletiekbaan en op die verskillende sportbane en -velde. Ek bars van trots as hulle op die podium staan,” verduidelik Sporie Bezuidenhout daar uit Despatch se wêreld. Die ander manne stem volmondig saam. Hulle het dit van Natalie du Toit, Oscar Pistorius, Toboho Magalagadi en Charl Bouwer verwag, maar nou het Achmed Hassiem, Dyan Buis, Jonathan Ntutu en Anrune Liebenberg ook medaljes verower om die landsvlag in Engeland te laat wapper – al is die Spele net ‘n paar dae aan die gang. “Hierdie sportlui werk net so hard indien nie harder nie as ons Olimpiese sportlui en dit verg in baie gevalle verskeie helpers om hulle by te staan. Daarom is dit eintlik bitter regverdig dat hulle net ‘n kwart van die prysgeld van die Olimpiese portlui vir medaljes verdien. Sommge van ons mense is net met wêreld- en Olimpiese rekords geklop. Hulle verdien meer, want hulle ding ook met die bestes ter wêreld mee,” sê om Sjert. Ook hiermee gaan almal akkoord. “Daar kon gewis meer van hul vertonings regstreeks op televisie gewees het,” laat Stywelip Carrington van hom hoor. Botterbul Bester raak skoon opgewonde daar in die Jakarandastad. “Het julle daardie gewigoptellers gesien en daardie sit-vlugbal. Man dit is darem baie ondernemend,” vertel hy opgewonde. Bontie Bonthuys laat so ‘n kans nie verby gaan nie. “Ja, jy kyk nou skielik Paralimpiese Spele en wat het met jou Blou Kallers daar op Nuweland gebeur? Daarvan sê jy nou niks nie,” vra-sê Bontie. “Geluk ja. Julle Streeptruie het ons behoorlik bloedneus gegee en ek het nie ‘n verweer nie,” verduidelik Botterbul haastig. Stywelip gooi ook ‘n stuiwer in die armbeurs. “Ja, soos die Haaie geveg het om die Ramkatte van die Vrystaat te klop, verdien hulle om bo-aan die puntelys te wees,maar hulle Kapenaars moet maar katvoet loop vir die Cheetahtjies,” waarsku hy. Sporie Bezuidenhou is ook gou by om aan Botterbul te verduidelik. “Jy kan die room van die land se jong rugbyspelers koop, maar as jy hulle nie behoorlik brei en afrig nie kry jy nie Graad A-rugbybotter nie. Die Streeptruie verdien ‘n pluimpie, want hulle ploeg met hul eie kalwers.” Groetnis