Goeiedag
Wat ’n sportnaweek! Die grootste besprekingspunt van my sportkamerade was die verstommende wyse waarop die Rose van Engeland die All Blacks se onoorwonne rekord beëindig het deur hulle op Twickenham te vermorsel.
Dit het nie net ons ou groepie nie, maar die hele rugbywêreld aan die gons. Daarby span die skitterende sege van die Protea-krieketspan in die derde toets oor die Aussies in Perth die kroon vir 2012.
“Ek dink dit is wekroep vir ons in die Suidelike Halfrond voor die 2015 Wêreldbeker-rugbytoernooi plaasvind. Engeland, Frankryk en selfs Ierland en Wallis gaan ons groot probleme besorg. Onthou die Bokke was ietwat gelukkig om die Engelse te klop,” is oom Sjert se mening. “Ek stem saam. Die Hane het ’n omgekrapte span wat met die Wallabies en Samoa afgereken het,” sê Bontie Bonthuys daar in die Kaap.
“Die Bokke het nou wel hul toer na Brittanje onoorwonne afgesluit, maar ek dink dit is tyd om voorraadopname te neem en deeglik te beplan. Veral nadat die Blits-Bokke so skandes in Dubai gemaak het. Ek wonder of dit nie tyd is om Paul Treu as afrigter van die Blits-Bokke te vervang nie. Daar is nie meer vernuwing nie en om darem teen Portugal te verloor is nie aanvaarbaar nie,” gooi Stywelip Carrington ’n klip in die bos. “Hoor, hoor!” Klink dit van alle kante af op. “Dit is nie net die rugbykodes wat ’n regruk nodig het nie. Ons tennis en atletiek is nou nie juis iets om oor opgewonde te raak nie,” verklaar Sporie Bezuidenhout daar van Despatch af. Botterbul Bester van die Jakarandastad is skrikkerig dat die manne weer na Heyneke Meyer se kant toe gaan mik en verander sommer die onderwerp.
“Dit is hartseer dat Charl Schwartzel en Louis Oosthuizen nie die Duitser, Martin Kaymer, se aanslag by Sonstad in die Nedbank-uitdaagtoernooi kon stuit nie. “Hy kan maklik die laaste kampioen van die spog-toernooi wees, want ek hoor die toekoms van die spog toernooi is in gevaar. Iets moet gedoen word om dit te red,” kla Bester.
“Ek gaan akkoord daarmee, maar ek is verheug dat die Protea-krieketspan darem weer teen die Aussies daar in Perth, Australië in rat gekom het. Eers was dit Dale Steyn-hulle met die boulwerk en daarna honderdtalle deur Hashim Amla en AB de Villiers en toe weer die boulers wat die Aussies verpletter het. Dit sal my sportjaar maak!” sluit oom Sjert die weeklikse indaba af.
Groetnis