Goeiedag
“Die Blitsbokke sal vinnig hul lakwerk moet opknap anders gaan hulle nie hierdie komende naweek hier by ons in Nelson Mandelabaai die IRR-titel verower nie,” begin Sporie Bezuidenhout ons indaba van Despatch af.
“Ai, die Blitsbokke het my plesier in die Doebai-sewestoernooi verskaf, veral die wyse waarop hulle met die Engelse en Kenia klaargespeel het, maar in die eindstryd het die Fidjiane die Suid-Afrikaners se swak verdediging uitgebuit en 29-17 gewen. Dit is die eerste keer dat Fidji die toernooi wen en die wyse waarop hulle die All Blacks in die halfeindronde 40-0 afgeransel het, was reeds ’n waarskuwing aan die Blitsbokke,” begin Bontie Bonthuys voort borduur. “Minstens twee van Fidji se vyf drieë kon met goeie, harde lakwerk verhoed gewees het. Hulle is groot, vinnig en sterk, maar ons keerwerk was darem net te effentjies. Neil Powell sal ’n beter balans tussen vaart, vaardighede en verdediging in sy span moet kry. Daar is te veel ratse mannetjies wat nie goed verdedig nie,” ondersteun Oom Sjert die manne. “Ja en lengte is ook belangrik. Veral met die afskoppe, om besit te wen. Ons het verskeie blitsige aanvallers soos Cecil Afrika, Cheslin Kolbe, Sampie Mastriek en Branco en Du Preez, maar waar is die manne om groot en sterk teenstanders te stuit? Beserings het ons ook ontwrig, veral die van Frankie Horne. Ons kan met aanpassings die Fidjiane verras, maar op die oomblik lyk hulle onstuitbaar,” lug Botterbul Bester sy mening.
“Manne, manne. Ek weet sewes is opwindend, maar het julle nie gholf gekyk nie? Charl Schwartzel is oorgehaal om die Suid-Afrikaanse aanslag in ons eie Afrika-major, die Nedbank Uitdaagtoernooi, hierdie komende week op die baan van die Gary Player-buiteklub te lei. Ek sal die sewes in die Baai met een oog dophou, maar die gholf gaan die meeste aandag verg, veral omdat die Big Easy, Ernie Els, ook weer speel,” verander Stywelip Carrington die onderwerp.
Die help nie, want Bontie herinner almal aan die rugby in Brittanje. “Manne, ons Bokke was blink in die Baabaas se wedstryd teen Fidji op Twickenham. Jean de Villiers en Bismarck du Plessis met sy Shimlas-kouse, was twee van die sterre en al die ander Suid-Afrikaners was ook uitstekend. Ja en die Wallabies was gelukkig om Wallis te klop. Ons gaan ons weer die komende dae blinkners voor die kassie sit.”
“Watwou sit, ek en Botterbul gaan saam met die gholfspelers stap,” herinner Stywelip ons. “Wel, van stap weet ek nou nie, maar ek gaan daar wees,” antwoord Botterbul vinnig onder ’n gelag.
Groetnis