Kolskoot

0
753

Goeiedag

“Ek weet julle gaan lag, maar ek wil, soos Botterbul, liewer weer my gholfstokke afstof en gereeld gaan speel. Ek kan ook eerder na gholf op die kassie kyk as om deur ons rugbyspanne, die Cheetahs en Bulle, in die Superrugby-reeks gepynig te word. My Cheetahs verloor 61-7 teen die Hurricanes in Nieu-Seeland. Ek weet die ‘Canes is die verdedigende kampioen, maar om darem nege drieë af te staan en net een te druk, is niks anders as ‘n marteling nie,” begin Oom Sjert uit die Rosestad met ons indaba.

Hy is op moedverloor se vlakte. Niemand lag nie, maar Botterbul Bester gryp sy kans: “Oom Sjert, mý pyn was groter. Die loesing van 51-14, wat die Leeus die Bulle in Johannesburg gegee het, was erger. Gelukkig het die Pretorianer, Zander Lombard, ons naam op die gholfbaan hoog gehou. Dit was so hittete of hy het sy eerste sege in die Europese reeks behaal. Hy het eerste op -14 houe saam met die Spanjaard, Álvaro Quirós, in die Rocco Forte Ope in Sicilië geëindig en is eers op die tweede uitspeel-putjie deur Quirós geklop. Daarby het Jbé Kruger gesamentlik 11de in die toernooi geëindig.”

Ek kan nie wag vir die Haaie en Leeus se SA-derbies die komende naweek teen onderskeidelik die Stormers in Durban en Kings in Johannesburg nie,” praat Bontie Bonthuys weer rugby.

“Ongelukkig het die Kings hierdie keer in die Baai 10-19 teen die Brumbies vasgeval, maar ek dink ons moet gesels oor die Springbokke en die Proteas. Onthou, Allister Coetzee kondig sy Bok-groep vir die toetse teen die Franse vandeesweek aan en Proteas se eerste Eendag-krieketwedstryde vind vandeesweek teen Engeland op Headingley in Leeds, in die Rose Bowl in Southampton en op Lord’s in Londen, plaas.

“Met kolwers soos AB de Villiers, Faf du Plessis, Hashim Amala en Quinton de Kock en boulers van die gehalte van Imran Tahir, Kagiso Rabada en Morné Morkel, kan ons die Engelse laat bontstaan. Die Proteas is nie om dowe neute die top-Eendagspan ter wêreld nie,” laat Sporie daar van Despatch ook van hom hoor.

“Sporie, nou praat jy gewigtige sake! Ons Bok-breier is onder geweldige druk en sy Bok-groep kan insiggewend wees, want as hy te veel oorsese speler betrek, kan dit die kommerwekkende uitstroming van SA spelers aanmoedig. Kies hy nie spelers soos Duane Vermeulen, Bismarck du Plessis, Frans Steyn en ander nie, kan dit lelik lol teen die Franse Hane en dan sal hy moet groet as breier. Hy is tussen die duiwel en die diep blou see!

“Die Bokke het tot die sewende plek op die wêreldranglys teruggesak en nog ‘n reeksnederlaag kan rampsoedig vir SA rugby wees,” vermaan Stywelip Carrington.
Skielik is dit doodstil, maar toe bars die bom, want almal wil ‘n eiertjie lê.

Groetnis