Kolskoot 31 Oktober 2012

0
335

Goeiedag

“Vat vyf Weepee! Dit was ’n welverdiende oorwinning. Hoe voel dit om die Kêrriekoppie ná elf lange jare weer in die Kaap staan te maak? Toetie (Allister Coetzee) jou voorslag!”Ons Suid-Afrikaners hou van wenners, maar as die buiteperd wen, maak dit ons sielsgelukkig. Daarom klink die gelukwensings en lof uit alle rigting op nadat die Streeptruie die Haaie in Durban teen alle verwagtinge in om die Curriebeker geklop het.Maar toe maak Bontie Bonthuys die fout om darem té uitbundig te word. “Ek het julle gesê ons gaan wen! Die Kaap gaan die volgende dekade sake oorheers, want ons het sonder baie van ons Bokke met pure melkbaarde gewen,” spog hy.Die ander makkers vererg hulle en begin sommer oor die Springbokke praat. “Ou Konserwatief Meyer, kies toe sommer ’n stuk of vier nuwes en gaan haal nog spelers in die buiteland. Wat sê julle daarvan?” vra Sporie Bezuidenhout van Despatch.Oom Sjert laat van hom uit die Rosestad hoor: “Ek besef van ons sleutelspelers soos Bismarck du Plessis, Andries Bekker, Heinrich Brüssow en Tiaan Liebenberg is beseer en daarom moet dus nuwe bloed wees. “Dit is goed en wel, maar ek is bekommerd oor sy keuse van die 19-jarige Raymond Rhule in Habana se plek. Meyer het alreeds twee van ons jong Vrystaatse rugbyvondse, Coenie Oosthuizen en Johan Goosen, op die krukkelys!”“Ek weet nie. Wat is nou die belangrikste Curriebeker- of Superrugby? Hoe kry die Goue Leeus skielik vyf spelers in die toerspan en hulle speel nie meer in die Rugbykampioenskappe nie. Die keuses van Lionel Mapoe en Franco van der Merwe lyk ’n bietjie vreemd,” sê Stywelip Carrington, wat nog nukkerig is ná sy Haaie se nederlaag.“Meyer het raakgevat om Francois Louw van Bath af te laat kom. Ek glo hy is weer in die kol met Gurthrö Steenkamp en Schalk Brits,” laat Botterbul Bester van hom hoor.“Jong, jy steun Meyer net omdat daar agt Blou Bulle in die Bokspan is. Dink jy Chiliboy Radepelle verdien ’n kans bo Deon Fourie, wat ’n haker en losvoorspeler is?” sê-vra Bonthuys.Hoor daar. My ou makkers stem wel soms saam, maar dit is baie lekkerder om te verskil.

Groetnis