Kolskoot – 30 October 2014

0
503

Goeiedag

“Geluk, Bontie, met die Weepee. Ek dink julle was gelukkig, maar in rugby moet ’n span soms geluk hê en al wat saak maak is dat die Goue Beker in die Kaap staan. Die feit dat Marnitz Boshoff nie sy skopskoen aangehad het nie en Demetri Catrakilis dodelik in die kol was, het die Streeptruie gered,” begin Oom Sjert ons indaba.
“Ek wil julle net inlig. Dit was so hittete of ons was ons ou maat, Botterbul Bester, kwyt. Ek het die naweek in die Jakarandastad gekuier en in ’n stadium het hy van gif drink gepraat en planne beraam om van die Voortrekkermonument se koepel af te spring. Waggies. Ondanks die mooi pienkpers-kleed van jakarandablomme wat die lente aankondig, was hy swartgallig. Dit was soos ’n begrafnis. Sy Blou Bulle kon nie die eindstryd van die Curriebeker haal nie, Tuks het op die netbalbaan die knie teen die Kovsies gebuig, die Titane moes punte aan die Knights afstaan omdat die krieketbaanblad van Willowmoorepark te gevaarlik was om op te speel en toe verloor die o.19- Blou Bulletjies ook nog 26-33 op Nuweland in die eindstryd van die nasionale reeks teen die Weepee. Al wat hom van sy planne laat afsien het, is die feit dat die o.21-Blou Bulle die titel met 20-10 voor die WP weggeraap het,” lig Sporie Bezuidenhout ons in.
“Geluk, Bontie. Terwyl ek so na die wedstryd sit en kyk, kon ek nie anders as om dankbaar te wees die Haaie het nie die eindstryd gehaal nie. Hulle sou groot slae gekry het. Ek hoop net ons nuwe afrigter, Gary Gold, kan ’n ommekeer bewerkstellig, want soos die Haaie nou speel wag daar groot slae op hulle,” praat Sywelip Carrington saam.
“Dankie, manne. Dit was ’n taai stryd en die Goue Leeus kon netsowel gewen het. Dit moet ek erken. Ek dink Boshoff se vertoning gaan hom waarskynlik ’n plek in die Springbok-toerspan na Ierland, Engeland, Wallis en Italië kos,” laat Bontie Bonthuys van hom hoor.
“Basta met die rugbygeselsies. Wat sê julle van Lee-Anne Pace se vertoning op die gholfbaan in China? Sy het haar eerste LPGA-titel gewen met haar totaal van 200 houe, 16 minder as syfer, op die Jian Lake Blue Bay-baan. Sy het haar naaste teenstander, Caroline Masson van Duitsland, met drie houe geklop, die Proteas het die Kiwis in Nieu-Seeland in die eendagreeks 2-0 geklop, terwyl Chad le Clos weer vier goue medaljes in die Wêreldbeker-gala in Beijing losgeswem. Le Clos moet ’n sterk kandidaat vir Suid-Afrikaanse Sportster van die Jaar-toekenning wees,” probeer Botterbul die gesprek in ’n ander rigting te stuur.
Die manne begin dadelik stry, maar Oom Sjert steek ’n stokkie daarvoor toe hy vir ’n minuut van stilte vra vir die afsterwe van die Bafana-kaptein, Senzo Meyima, wat in Vosloorus vermoor is.
Ná die stilte kry Sporie die steun van die ander dat ons aanstaande week oor die Springbok-toerspan, die Barbarians en die Proteas se kieketaanslag in Australië sal praat.

Groetnis