Kolskoot – 30 July 2015

0
796

Goeiedag

Die manne is nie meer so swartgallig nie, maar daar is nog kommer by sommiges tydens ons indaba.
“Ek het nou meer hoop vir die Wêreldbeker-toernooi wat in Augustus in Engeland begin. Die Bokke sou waarskynlik enige ander rugbyspan ter wêreld behalwe die All Blacks op Ellispark geklop het en die vertoning van die twee jong senters, Damian de Allende en Jesse Kriel, teen een van die gedugste senterpare ter wêreld, Conrad Smith en Ma’a Nonu, was vir my ’n riem onder die hart. Vorentoe kan hulle net beter,” val Sporie Bezuidenhout met die deur in die huis.
“Julle moet nie die jong slotpaar, Lood de Jager en Eben Etzebeth, vergeet nie. Hulle was uitmuntend. Die feit is egter dat ons 20-27 verloor het en nog op soek is na ’n sege in vanjaar se Kampioenskapsreeks. Daar moet ook groot twyfel oor Richie McCaw se wendrie wees. Na my mening het die All Blacks verskeie reëls oortree in daardie lynstaan. Die feit is egter dat die drie toegeken is en kla sal nie help nie,” gesels Oom Sjert saam.
“Kêrels, vir my is dit belangrik dat die Bokke aanvallende rugby gespeel het. Dit was ongetwyfeld een van die beste toetse vanjaar. Dalk moet ons Heyneke Meyer en sy afrigtingspan die lof gee wat hulle toekom. Daar is ’n duidelike verbetering in die Bokke se spelpatroon – selfs sonder die strydrosse Jean de Villiers en Victor Matfield. Hulle moet nou daarop voortbou in die toets teen die Poemas aanstaande week in Durban,” praat Botterbul Bester saam.
“Goed, Botterbul, maar ek stem saam met Naas Botha dat Meyer-hulle reeds twee jaar gelede met die patroon moes begin het. Onthou, die beserings van ons twee vaskopstutte, Jannie du Plessis en Vincent Koch, het nie-mededingende skrums tot gevolg gehad. Dit het ’n groot invloed op die uitslag gehad.
“’n Gelykopuitslag van 20-20 sou dalk beter gewees het, maar ’n gelykopuitslag is soos om jou suster te soen en dit werk nie vir my nie,” lê Sporie Bezuidenhout ook sy eiertjie.
Bontie Bonthuys verander die ontwerp. “Kom ons vergeet nou eers rugby tot volgende week wanneer die laaste Kampioenskap-toetse gespeel word. Die All Blacks en Wallbies spook sake om die Bledisloe-beker in Sydney uit en die wenner sal as kampioen gekroon word, terwyl ons en die Poemas mekaar pak om die derde plek. Die Curriebeker-reeks begin ook. Kom ons gesels atletiek.
“Wayde van Niekerk het weer in die 400 meter in die Diamantliga in Londen goud verower, terwyl LJ van Zyl en Zarck Visser albei silwer in onderskeidelik die 400 hekkies en verspring ingepalm het en moet nie Anaso Jobodwana vergeet nie. Hy was derde in die 200 meter.”
Nou is die manne lekker opgewonde. “Fina se Wêreldkampioenskappe is in Rusland is aan die gang. Ons Chad Ho het die 5km oopwater-swem vir mans gewen. Augustus hou sommer verskeie groot sportgebeure in,” gesels Stywelip Carrington saam.
Almal praat gelyk oor atletiek in Beijing, swem in Rusland, rugby en selfs netbal. Daar heers harmonie.

Groetnis